Nellie-swemmers wys hul besonderse talent
Laerskool Nelspruit se jong swemmers van verskillende klubs het uitgeblink by die jaarlikse interhuis op 30 September.
Die swemmers van Nelspruit Swem Akademie (NSA) se prestasies by die onlangse Nellies ACDC-interhuis het verwagtinge oortref.
Die interhuisswemgala is verlede Woensdag by Laerskool Nelspruit aangebied. Die skool se skakelbeampte, Johan Orton verduidelik dat dit die eerste ACDC-interhuis is waaraan die NSA deelgeneem het.
Die akademie se Giano Dos Santos is as victor ludorum bekroon.
Die gr. 7-seuns Dylin Mulder van Guppies en Robbie Drummond van Uniswim was in ‘n oorlog gewikkel met Giano om dié kroon. Die wenner is uiteindelik in die 200-meterwisselslag beslis.

Volgens Orton was dit een van die opwindendste items van die dag. “Dylin en Giano was gewikkel in ‘n taai tweestryd in die item wat lank onthou sal word. Giano het egter welverdiend geseëvier.” Giano het ook die rekord verbeter.
NSA se Nicci Viljoen is as die victrix ludorum aangewys.
Dit was ook ‘n hewige tweestryd om laasgenoemde tussen Nicci en Taylor Kotzee.

Dit is eers met die laaste item van die dag beslis toe Nicci vir Taylor, wat ook by die akademie swem, met ‘n kort-kop in die 200-meterwisselslag geklop het.
- Sien al die aksiefoto’s van Laerskool Nelspruit se interhuis swemgala hier.
Jodi dos Santos van NSA is as die junior victor ludorum, met Jean Cilliers van Fins wat as die junior victrix ludorum aangewys is.
Taylor, Niccci en Giano het ook langstaande rekords in rugslag verbeter. Orton sê die NSA-swemmers was die enigstes wat rekords op die dag kon verbeter.
Braam Basson van Uniswim, Jimmy Munro van NSA en Milche Mulder van Guppies het ook verskeie goue medaljes ingepalm.
Nou word die span gekies om alle Nellies, ongeag van die klub waaraan hulle behoort, te verenig as die 2015-kampioenswemspan.
“Dit was egter duidelik dat die Nellies oor ongelooflike diepte in swemtalent beskik. Hierdie talent sal verseker dat Nellies hulle status as die beste swemlaerskool behou in Mpumalanga vir 2015. Dit was ‘n fantastiese vertoning van deelname, pret en prestasie,” sluit Orton af.
