Skool vereer beste atlete van die jaar
Die 10-jarige landloopatleet van Laerskool Laeveld, Therese Seyffert is onlangs as sportdogter van die jaar by haar skool se prysuitdeling gekroon.

Sy was die enigste atleet van die Laeveld wat aan die Suid-Afrikaanse Skolekampioenskappe in Oos-Londen deelgeneem het.
Therese het in gr. 2 met landloop begin en verlede jaar by Nelspruit Marathonklub aangesluit. Sedertdien het sy reeds drie keer haar provinsiale kleure in dié sport verwerf. Sy was in 2014 na die Suid-Afrikaanse Klubkampioenskappe waar sy 25ste uit 220 atlete geëindig het. By vanjaar se klubkampioenskappe in Middelburg was sy 39ste uit 300 atlete. Haar beste tyd oor twee kilometer is 07:35. Van volgende jaar af hardloop haar ouderdomsgroep drie kilometer.
PJ Coetzee, wat ook as Laeveld se hoofseun vir 2016 aangewys is, het die trofeë vir sportman van die jaar gekry.
Die ster-atleet, Ashaan Sebastian Greaver (12) het die toekenning vir uitstaande sportprestasie van die jaar ontvang. Hy het vroeër vanjaar by die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap ‘n nuwe rekord in die 150 meterhekkies opgestel en nóg
‘n goud in die 150-meter behaal. Hy is hier ook as die beste baanatleet aangewys. By die jaarlikse interlaer-atletiekbyeenkoms het hy met amper al die prestasies weggestap nadat hy as die victor ludorum, beste hekkies- én baanatleet gekroon is. Hy is het ook die trofee vir die beste individuele atleet op die dag huis toe gevat.


