Whities se o/10’s verower bowl-beker in 7’s-toernooi
Laerskool Witrvier moes noodgewonge 'n o/10-span inskryf om die loting van die wedstryde te laat klop. En bo alle verwagtinge wen dié groentjies toe die o/11 se bowl-eindstryd.

Wat twee jaar terug as ‘n droom vir die Fathers Ground begin het, kon dié formidabele span pa’s vir die tweede agtereenvolgende jaar ‘n sewestoernooi die afgelope naweek op Laerskool Witrivier se velde aanbied.
Skole van regoor die Laeveld se o/11 en o/12-spanne het aan die toernooi deelgeneem. Net soos verlede jaar, het die seuns skouspelagtige rugby gespeel.
Lees ook: Fathers Ground se gholfdag weereens ‘n reusesukses
“Ons bedank graag ons hoofborg, Vodacom, asook al die skole wat die geleentheid bygewoon het. Ons hoop om julle volgende jaar weer te sien. Die skeidsregters en baljoggies het hulle puik van hulle taak gekwyt. Baie dankie aan die manne wat oor die twee dae 96 wedstryde geblaas het,” het Jaco Bekker van Fathers Ground gesê.
Deelnemende skole was Witrivier, Goedehoop, Numbi, Steelpoort, Tzaneen, Noordskool, TP Statten, Penryn Prep, Clivia, St Peters, Klipfontein, Ehlanzeni Development, Rietkuil en Curro Nelspruit.
Na elke kragmeting is daar ‘n speler van die wedstryd – en na afloop van die toernooi ook ‘n speler van die toernooi – aangewys. Laerskool Goedehoop se Luan Lottering (o/11) het die speler van die toernooi-toekenning ontvang en Paballo Legodi (o/12) van Laeskool Tzaneen het in sy ouderdomsgroep ook met die gesogte prys weggestap.
“Dankie aan al die pa’s van Fathers Ground wat betrokke was. Die toernooi was ‘n reusesukses,” het Bekker gesê.
Wenners van die trofeë
O/11
• Skild – TP Stratten
• Bowl – Witrivier se o/10’s
• Plaat – Laerskool Rietkuil
• Beker – Laerskool Tzaneen
O/12
• Skild – Laerskool Tzaneen
• Bowl – Laerskool Goedehoop B
• Plaat – Laerskool Steelpoort
• Beker – Laerskool Tzaneen.






























