Whities vereer veelsydigste atlete
Laerskool Witrivier se Pieter Burger en Kayla de Villiers het vanjaar die sportveld op horings geneem.

Dié veelsydige atlete het tydens Whities se prysuitdelingsfunksie met onderskeidelik die sportseun- en sportdogter-trofee van die jaar weggestap. Hulle het ook die toekenning vir die mees veelsydigste atlete van die jaar ontvang.
Pieter is vroeër vanjaar as die senior victor ludorum by Witrivier se interhuis-atletiekbyeenkoms aangewys.
Lees ook: Witrivier se hokkiespelers deur na eindstryd
Hy het die 150m-hekkies in ‘n blitsvinnige tyd van 24,75sek voltooi asook die 75m-hekkie (14,26) en 1 200m (04:20,34) kafgedraf.
Nie net het dié o/12-seun op die atletiekbaan uitgeblink nie, maar hy het ook die Pumas o/12-span vanjaar verteenwoordig. Hy het ook die provinsiale span vir die Suid-Afrikaanse Skole Tweekamp-kampioenskappe, gehaal.
Kayla (o/12) is tydens die finale ronde van die provinsiale netbalproewe, gekies om Mpumalanga by die Suid-Afrikaanse Winterspele wat einde Julie in Gauteng plaasgevind het, te verteenwoordig. Sy het ook ‘n besonderse prestasie vroeë vanjaar by ‘n atletiekbyeenkoms by Nelspruit Primary behaal, toe sy met ‘n hoogte van 1,3m oor die hoogspringlat gespring het.

Die hemelbesem, Thabiso Matheba, het die hoof se toekenning van die jaar ontvang.
Witrivier het met vyf atlete wat vir die Mpumalanga-kampioenskappe wat in Secunda plaasgevind het, gespog wat vir die SA Skole-kampioenskappe wat in Maart in Port Elizabeth beslis is, gekwalifiseer.
Daar het Thabiso (o/13) ‘n eerste plek in hoogspring behaal toe hy 1,6m oor die lat gevlieg het.
Thabiso was Whities se enigste o/13-rugbyspeler wat vir die Coca-Cola Cravenweekspan uitgedraf het.
Trofeë
• Veelsydigste sportseun – Pieter Burger
• Veelsydigste sportdogter – Kayla de Villiers
• Junior sportseun – Henno Hattingh
• Junior sportdogter – Amé Quin
• Senior sportseun – Pieter Burger
• Senior sportdogter – Kayla de Villiers
• Toekenning vir gebalanseerde prestasie in akademie, kultuur en sport – Rijk de Kock
• Hoof se toekenning – Thabiso Matheba.





