NHS se atlete is tops in Randburg
Die jaarlikse Randburg-byeenkoms, waaraan agt skole Vrydag deelgeneem het, het skitterende vertonings opgelewer.

Saam met die A-bond-skole soos Prestige College, hoërskole Monument en Nelspruit, het Rustenburg, Zwartkop, Eldoraigne, Randburg en Jeugland gesorg dat die een opwindende item na die ander onder groot toejuiging plaasgevind het.
Die wyse besluit om die meeste van die atlete wat die vorige Woensdag aan die Noordheuwel Top 15-byeenkoms deelgeneem het, te laat rus, het ‘n verrassende gevolg of twee gehad.
‘n Hele paar plaasvervangers het met uithaler-vertonings hul kleim vir insluiting in die interhoërspan afgesteek.
So het Xander Rutherford, nommer drie-atleet na Jacques Marais en Douw Kruger (albei top-15-atlete), die kans met albei hande aangegryp en in die skyfwerp (o/15) met ‘n reuseafstand van 52,06m losgetrek – ‘n volle 1 062 punte werd.
Lees ook: Twintig Nellies gekies vir provinsiale span
Van Reenen Kruger (o/14) het in die 100m-hekkies in die eerste plek met ‘n tyd van 14,41 klaargemaak. Dit het hom 929 punte in die sak gebring en sy tyd in die 300m van 42,25 het 838 op die tabel ingelees.
‘n Wedloop waar beslis by stilgestaan moet word, is die 800m vir seuns o/15.
NHS se Kendrick Salmans en Conrad Grobbelaar het mekaar opgekeil asof dit ‘n nasionale eindronde was. Albei die seuns het vir die eerste keer deur die grens van 02:10 gebars, met Kendrick (02:06,88, 915 punte) slegs ‘n kortkop voor ‘n vegtende Conrad, wat self baie tevrede met sy blink tyd van 02:06,97 (913 punte) kan wees.
Onder die dogters het Nicolize Aucamp (o/14) die 200m in 26,92sek (879) en die 400m in 60,97sek (865) kafgedraf.
NHS se atlete wat goue medaljes verower het:
Seuns
• Meli Maxibuko (o/19) – driesprong, 12,41m
• Dylan Soderlund (o/19) – spiesgooi, 52,50m
• Devon Nell (o/16) – 400m-hekkies, 56,86
• Chyle van Zyl (o/16) – gewigstoot, 14,44m
• Ruan Labuschagné (o/17) – 400m-hekkies, 56,30
• Van Reenen Kruger (o/14) – 100m-hekkies, 14,41.
Dogters
• Nerina Visser (o/19) – 100m, 13,07
• Nicola Cronjé (o/16) – 800m, 2:23,08
• Jessica Berry (o/16) – 1 500m, 4:55,02.


