Nellies se atlete raap meeste van die trofeë by interlaer op
Die enigste atleet wat meer as 1 000 ABSA-punte by die Obaro Interlaer-atletiekbyeenkoms kon insamel, was Laerskool Nelspruit se Kiara Craven.
Dié atleet se hoogte van 1,30m in die hoogspringitem vir dogters o/10, het haar 1 059 in die sak gebring.
Ashley Erasmus (o/12) het die eerste rekord van die dag in gewigstoot opgestel.
Haar afstand van 11,30m was 962 punte op die ABSA-tabel werd. Sy het die item met meer as drie meter gewen.
Huidige Suid-Afrikaanse Skole-kampioen in die 150m-hekkies, Anje Nel (o/13) het twee nuwe rekords in onderskeidelik die 75m-hekkies asook die 200m-hekkies agter haar naam geskryf. Sy het ook ‘n silwermedalje in die 100m om haar nek gehang. Haar spanmaat, Larise Combrink het in die eerste plek met ‘n tyd van 13,94sek geëindig.

Anje het in die 75m-hekkies haar vorige tyd van 12,80 (2016) na 12,62 verbeter. Sy het ook die 200m-hekkies in 22,36 kafgedraf. Ruben Greeff het die trofee vir die beste middelafstandatleet vir o/10-seuns in die 1 200m met ‘n blitsvinnige tyd van 04:15,19 verower. Vaughn van Zyl (o/10) het ook die gewigstootafstand na ‘n 9,69m verbeter.
Sien ook: Interlaer atlete opkoms
“Die Obaro Interlaer was by uitnemendheid ‘n geleentheid wat ons kon gebruik om as ouers, afrigters, en kinders, ons horisonne te verbreed, nuwe vriendskappe te smee en te kon sien hoe ons kinders woeker met die talente wat hulle van ons hemelse Vader ontvang het. ‘n Opregte woord van dank en waardering aan al die borge, vir hul aandeel daarin om hierdie ‘n onvergeetlike dag vir ons kinders en beamptes te maak.”
“The race is not always to the swift but to those who persevere. Our athletes reaped the benefits of the hours they spent on the track preparing for the meeting. Laerskool Lydenburg het die tafel gedek vir gesonde kompetisie tussen die atlete. Hulle het van die staanspoor af en die kinders aangemoedig om mekaar se energie te gebruik as bondgenote om die horlosie te klop en die maatband uit te rek.”

“Ons weet dat om werklik te wen, meer is as ‘n oomblik op die rostrum – dit is ‘n lewenslange verbintenis van deelname. Daar is die heeldag aanmoediging en lof deurgegee en daar is trane van blydskap en hartseer gestort.”
“As dit al is wat ons van die Obaro Interlaer saamgeneem het, dat waar ons ook al besig was of wat ons ookal gedoen het ‘n verskil gemaak het, dan was Vrydag deur en deur die moeite werd.”
“Vrydag sal om verskeie redes nog vir jare onthou word maar veral omdat ons desondanks die omstandighede die dag tot op die laaste item kon afhandel – daarvoor verdien Laerskool Lydenburg ook nog ‘n spesiale veer in die hoed,” het die hoof van Nellies, Arrie Henn gesê.
Lees ook: Shanese, Anje goed op dreef vir atletiekseisoen
Die toppresteerders van Laerskool Nelspruit
• Beste middelafstandatleet, dogter – Lana Botha (o/10)
• Meeste punte op die ABSA-tabel, beste veldatleet – Kiara Craven (o/10, hoogspring)
• Junior victrix ludorum – Zoë Cilliers (o/9)
• Beste middelafstandatleet, seun – Ruben Greeff (o/10, 1 200m)
• Senior victrix ludorum, beste baanatleet, dogter – Shanese de Clerck (o/12, 70m-hekkies)
• Beste hekkiesatleet – Anje Nel.
