Hoërskool Nelspruit-rugby reg om in 2026 Noordvaal SDC Beker hul alles te gee
Dit beloof om ’n uitdagende SDC Noordvaal Beker-seisoen vir die Nellies in 2026 te wees, maar die hoop bly hoog.

Die bepalings vir die 2026 SDC Noordvaal Beker se plaat-afdeling is in middel-November bekend gemaak, en Hoërskool Nelspruit se rugbyhoof, MJ Mentz, sien uit daarna om die uitdaging aan te pak.
Die Nellies het in 2025 ‘n moeilike jaar in die beker-afdeling gehad, waar hulle laaste op die punteleer geëindig het. Hulle is daarom vir die 2026-seisoen na die plaat-afdeling afgeskuif. Die bepalings vir die komende seisoen is op 19 November bekend gemaak, en die Nellies gaan ‘n totaal van agt wedstryde speel – vier tuis en vier weg.
Die seisoen begin op 25 April weg teen Hoërskool Oos-Moot, gevolg deur hul eerste tuiswedstryd teen Hoërskool Transvalia, wat ook in 2025 van die beker-afdeling af beweeg het. Daarna volg twee opeenvolgende wegreekse teen Hoërskool Montana en Hoërskool Klerksdorp. Op 23 en 30 Mei het die Nellies loslootjie-naweke, waarna hulle op 6 Junie tuis teen Hoërskool Wesvalia speel.
LEES OOK: IN PHOTOS: Springboks put through their paces at Hoërskool Nelspruit
Na die wintervakansie speel hulle weer weg teen Hoërskool Zwartkop. Die seisoen sluit met tuiswedstryde teen Hoërskool Kempton Park op 1 Augustus, en HTS Middelburg op 8 Augustus af. Dit is ‘n taai skedule, aangesien die eerste wedstryd net na die Puk-reeks se eindstryde plaasvind.
Met die oog op die topprys in die 2026 Puk-reeks het Mentz erken dat die skedule nie ideaal is nie, maar hy bly positief. “Ons sou graag ‘n loslootjie-naweek voor die liga wou gehad het, maar ons sal sorg dat ons die beste daarvan maak,” het hy aan Laevelder gesê. “Ons sien uit na die vier tuiswedstryde; ons het planne om dit regtig lekker te maak en ‘n nuwe gees rondom die rugby te bou.”

Ten spyte van die afskuif, is Mentz seker dat die komende seisoen nie maklik sal wees nie. “Dit is altyd ‘n uitdagende reeks, maak nie saak of mens ‘n liga afgeskuif het nie. Die plaat-afdeling is steeds ‘n baie tawwe kompetisie,” sê hy. “Dis hoekom ons van die o. 14’s af tot by die seniors elke wedstryd as bitter belangrik sal benader.”
Mentz voel positief, maar bly realisties oor wat voorlê. “Ons moet weer uit die as opstaan na hierdie jaar se skuif. Ons gaan hard moet werk om die trots in die Nellies-trui weer op te bou, en met hart en toewyding op die veld uitdraf as ons mededingend wil wees.”
Al wil Mentz die Nellies so gou as moontlik terug in die beker-afdeling sien, is dit vir hom tans belangriker om die regte sisteme te bou. “Ons wil ‘n rugbyprogram hê wat spelers voortdurend toets en verseker dat ons aan die einde van die dag baie meer mededingend is,” het hy afgesluit.

