Musiek vir die vakansie
Twee Suid-Afrikaanse albums wat onlangs uitgereik is, bied luistergenot vir die vakansie.
Of dit nou agtergrond vir ‘n partytjie of lekker saamsing-melodieë vir die langpad is, musiek is ‘n belangrike deel van vakansie. Twee Suid-Afrikaanse albums wat onlangs uitgereik is, is dalk net die vakansie-vermaak vir jou.
Die sangeres-liedjieskrywer, Liela Groenewald, bied haar debuut-album, Horison, aan. Dit bevat Afrikaanse en Engelse liedjies wat akoesties en rock-gedrewe is, met poëtiese lirieke wat die hartsnare van digters en musiekliefhebbers sal roer.
Groenewald is bekend vir haar optredes as agtergrondsangeres saam met Koos Kombuis in die 90’s en 2000’s, maar musiek is al van kleins af ‘n belangrike deel van haar lewe. “Ek sing al van kleintyd af en was op skool by die revue betrokke. Tydens my musiekvakansie het ek op Stilbaai individuele live shows gedoen en tydens ‘n gap jaar in Duitsland ‘n paar klein optredes,” vertel Liela.
Horison bevat 16 liedjies, waarvan 14 uit Liela se pen is. “Dit is liedjies wat my live fans van Oppikoppi, die KKNK, ander feeste en kroegies af sal herken, maar dit is die eerste keer wat dit uitgereik word. Dit is liedjies wat my na aan die hart lê vanweë die temas. Almal gaan oor ervarings wat my diep geraak het,” sê Liela.
Liedjies soos Cassiem se Song – een van Liela se gunstelinge – en Highway pols met op-en-wakker reggae-invloede, asook die akoestiese folk van snitte soos 27 engele, sal soos ‘n skoenlapper op ‘n mens se skouer kom sit. Malaika is weer ‘n vuurwarm Afrika-lied met jazz-invloede en hoendervel-sang.
‘n Paar gaskunstenaars verleen hul talente aan die album: Anton L’Amour kan gehoor word op Heading for my Homeground, die kitaarspeler Jonathon Crossley op Favours en Louis Mhlanga op Malaika.
Besoek www.liela.co.za vir meer inligting.

Die ander debuut-album is Suné Botha se U Alleen is God. “Daar kom ‘n dag en ‘n uur in enige iemand se lewe wanneer jy besef daar is net een plek waarheen jy kan gaan, en dis op jou knieë,” vertel Suné.
Suné het al in gr. 2 ‘n sangkompetisie in Brits en daarna nasionale voordragkompetisies gewen. Sy het ook goed gevaar in kunswedstryde en Eisteddfods op laer- en hoërskool. Sy het ook op hoërskool in die Noord-Gauteng Jeugkoor gesing. Sy het bemarkingsbestuur studeer na skool. Tans ontvang sy stemopleiding by Mauri Mostert, wat ook top sangers soos Bobby van Jaarsveld afrig. Sy tree gereeld op en het ‘n violis wat die verhoog met haar deel. Haar suster sing ook soms saam met haar.
Die liedjies op haar album kom almal uit haar hart en sy het vier gunstelinge – Prys Hom, Alles werk ten goede mee, Welgedaan en God is groot. Haar musiekvideos soos Ek slaan my oë na die berge is op YouTube te sien.
God is haar inspirasie en met haar stem, skryfwerk en wanneer sy klavier (en soms ook ‘n bietjie trekklavier en orrel) speel, gebruik sy haar gawes. “Hy’t vir my die talent gegee. Ek wil vir Hom wys ek waardeer dit en dit nie begrawe nie. Ek wil nie eendag met leë hande voor Hom staan nie,” vertel Suné.
Loer gerus na haar musiekvideo’s op Youtube by https://www.youtube.com/watch?v=9-6K3c1nibk.
