Maak reg vir ‘n makietie
Maak reg vir 'n groot makiti met vermaak vir die hele gesin op 30 Januarie en 1 Februarie.
NELSPRUIT – Daar is nog net twee weke voor die Maroela Makiti en organiseerders hardloop rond om te verseker dat hierdie die beste fees nog gaan wees.
Hierdie jaar is die groot trekpleister die tien top-kunstenaars wat gaan optree. Die fees word hierdie jaar op 31 Januarie van 14:00 to 22:00 en 1 Februarie van 08:00 tot 22:00 by Hoërskool Bervlam gehou.
Daar is ‘n wye verskeidenheid kunstenaars wat musiek vir elkeen se smaak gaan maak. Vir die jonges bied Snotkop en Glaskas genoeg geraas, terwyl Jannie Moolman en Mathys Roets ‘n rustiger alternatief bied. Bok van Blerk en Riana Nel sal feesgangers die geleentheid gee om na hul gunsteling-treffers te luister.
Die optredes is tussen 17:00 en 22:00 in die kykNET-arena. Vrydag gaan Evert Swart, DJ Ossewa, Jannie Moolman, Riana Nel en Snotkop te siene wees, en Saterdag is dit Armand die Singende Cowboy, Juba, Glaskas, Mathys Roets en Bok van Blerk se beurt.
Deur die dag gaan vooruitstrewende kunstenaars soos Natascha C, Leandri, Vasti, Chenell Grimsel en Rochelle Jacobs optree.
Kaartjies kos R70 per dag en is reeds by Computicket, asook die Hervormde Kerk Nelspruit in Belladonnastraat 120, beskikbaar.
Navrae: 072-278-4526 of info@mbpromark.co.za
