Gaan koop solank jou Makiti-kaartjie
Die Maroela Makiti is eersdaags en daar gaan hope vermaak deur bekende Afrikaanse kunstenaars wees.
Jy sal jou program mooi moet uitwerk en ‘n lekker sitplek kry om al kunstenaars by die Maroela Makiti te sien.
Tien top Afrikaanse kunstenaars, vyf plaaslike kunstenaars asook ‘n plaaslike musiekgroep gaan feesgangers vermaak tydens die twee dae van die Maroela Makiti.
Vrydagaand, 31 Januarie, se topvermaak gaan deur Evert Swart, Jannie Moolman, DJ Ossewa, Riana Nel en Snotkop verskaf word.
Jannie Moolman is bekend vir sy suiwer stem en pragtige vertolking van klassieke liedere. Hy was voorheen deel die groep “Ons eie drie tenore” en deel gereeld die verhoog met Rina Hugo.
DJ Ossewa gaan ‘n tikkie pret aan die aand verleen. Hulle mengsel van komedie en lekker Afrikaanse dansmusiek sal verseker die gehoor op hul voete en aan die lag hou.
Riana Nel sal pragtige stem en sprankelende persoonlikheid sal vinnig die gehoor se harte wen. Haar treffer Timbuktu het deel uitgemaak van die Afrikaanse fliek, Semi-soet, se klankbaan en het gereeld op televisie en radio gespeel.
Snotkop is die laaste sanger van die aand en bekend vir liedjies soos Jol, Parapapa en Song vir my dad.
Saterdagaand, 1 Februarie, is dit Armand, Juba, Glaskas, Mathys Roets en Bok van Blek se beurt op the verhoog.
Armand gaan eerste die gehoor vermaak met sy country stem en manewales op sy dansende wit perd. Die twee Joubert broers, beter bekend as Juba gaan die gehoor aan die dans hou. Hul twee albums, Skop uit jou skoene en Bakgat Boogie bevat ‘n mengsel van pop, rock, dans en moderne boeremusiek, wat vele treffers insluit.
Glaskas gaan daarna jongmense met hul pop- en rock-musiek aan die sing hou. Hul treffers Verloof myself, Meneer en Golflengte verkeerdom prys is gereeld op musiekkanale te sien gewees.
Mathys Roets se rustige geaardheid en treffende liedere het hom ‘n plek in die harte van baie Suid-Afrikaners besorg. Hy het bekendheid verwerf met sielvolle vertolkings van liedere deur Neil Diamond en Leonard Cohen. Hy het al twaalf cd’s opgeneem, wat Droomvrouens, Steeds Mathys en Fluister insluit.
Bok van Blerk gaan die Makiti se musiekprogram afsluit. Hy het bekendheid (of berugtheid) verwerf met die treffer, De la Rey en op die trefferlys gebly met Tyd om te trek, ’68 Chevy en Afrikanerhart. Hy het ook saam met Steve Hofmeyr die roerende duet, Pa & Seun, opgeneem.
Benewens hierdie skitterende kunstenaars, gaan daar ook deur die dag optredes deur plaaslike, kunstenaars wees. Leandri Small en Vasti gaan Vrydagmiddag optree en Natascha C, Chenell Grimsel en Rochelle Saterdag vanaf 11:00. Alter Dayz gaan Saterdag om 17:00 by die skaatspark musiek maak.
Toegangskaartjies is reeds beskikbaar by Computicket of die Nederduitsch Hervormde Kerk Nelspruit in Belladonnastraat. Dit sal ook tydens die fees by toegangshekke beskikbaar wees. Toegang is R70 per dag, maar ‘n naweekkaartjie is ook teen ‘n spesiale tarief beskikbaar. Pensionarisse en kinders onder twaalf kan gratis die terrein betree.
Navrae: Mantoine by 072 278 4526, info@mbpromark.co.za of www.maroelamakiti.co.za.
Vir meer inligting oor die Makiti, kliek hier: https://www.citizen.co.za/lowvelder/events/event/dis-amper-tyd-vir-maroela-makiti/
