Is Innibos jou gunsteling fees? Stem dan!
Innibos staan die kans om hierdie jaar met 'n Fiesta vir die gewildste fees weg te stap. Maak seker jy stem soveel keer moontlik!
Die KykNET Fiëstas word jaarliks tydens ’n glansryke geleentheid in die Stadsteater, Pretoria aan die room in die teaterwêreld toegeken.
’n Fiësta-paneel besoek die onderskeie feeste en woon die debuutproduksies by. Innibos het die volgende nominasies ontvang. Vir die beste vertoning in ’n solostuk is sowel Tobie Cronjé in Ballade van ’n banggat as Gys de Villiers in Wit manne se wapens genomineer. Beide hierdie stukke het wyd lof ontvang van sowel die publiek as die resensente.
Marius Weyers het ook ’n Fiësta-nominasie as beste manlike byspeler ontvang vir sy rol as Lappies in Tango wat deur Chris Barnard geskryf is. Hierdie produksie is nie net by Innibos nie, maar ook by Aardklop en die Woordfees goed ontvang.
Daar is ook ’n afdeling waar die gewildste fees aangewys word. Ons het so pas die goeie nuus gehoor dat Innibos weer een van die vier genomineerdes – naas die KKNK, Aardklop en Woordfees – is vir die Fiësta- toekenning as die gewildste fees.
Innibos het hierdie gesogte toekenning in 2012 gewen. “Ons sal baie graag weer hierdie toekenning wil inpalm”, het Andy Lubbe, Innibos se feesbestuurder gesê. So ’n toekenning het baie bemarkingswaarde en daarom ondersoek Innibos die moontlikheid om laerskool kinders gratis toegang tot die feesterrein te gee indien Innibos wel met die toekenning wegstap. “Innibos probeer altyd terugploeg in die gemeenskap,” het Lubbe bygevoeg, “daarom het ons ook die vrymoedigheid om vir die gemeenskap te vra om vir ons te stem”.
As Innibos jou gunsteling fees is, SMS F2 na 33690 soveel keer as wat jy wil. Die sluitingsdatum is 2 Februarie 2014 en die wenner word op 13 Februarie tydens die gala-aand aangewys. Hierdie glansryke geleentheid word vanjaar lewendig op kykNET gebeeldsend wat dus aan almal die geleentheid bied om in die opwinding te deel.
Andy bedank elke feesganger wat Innibos so getrou ondersteun. “Innibos is die gemeenskap se fees en dit is hoe dit moet wees,” het hy gesê.
