Die avo is werklik ‘n wondervrug
Die Brondal Avo-fees beloof heerlike kos en lekker vermaak - of jy nou van avo's hou of nie!
MBOMBELA – Avokado’s is ‘n gunsteling onder baie smulpape, wat nie skroom om baie geld vir dié vrug te betaal nie.
Gelukkig word dit nou volop in die Laeveld verbou en waar jy maklik R36 vir twee betaal het, kan jy nou ‘n boks vir tussen R40 en R50 aanskaf.
Die avokado se voordele word deur al hoe meer navorsers en dieetkundiges besing. Dit is propvol mono-onversadigde vette wat goed vir die hart en brein is. Tim Noakes, wat se hoë-vet/lae-koolhidraat-dieët nou hoogmode is, sweer ook daarby. Hy sê dis bog dat avokado’s jou vet maak – jou liggaam breek eerste vette af.
Daarom moet jy Saterdag se 12de Brondal Avo-fees bywoon. Verrigtinge skop om 09:00 af en sal tot laat aanhou. Die fees word by Elmswood gehou.
Besoekers sal tussen die heerlikste happies, soos toebroodjies met spek en avo; gaucamole en avokado op pizza kan kies. Die spitbraai gaan ook vingerlek-lekker wees. Die avokado is ‘n baie veelsydige vrug en byprodukte soos olies, sal ook beskikbaar wees. Die Suid-Afrikaanse Avokado Kwekers Vereniging (SAAKV) gaan ook ‘n stalletjie beman. Dit sal kompetisies aanbied en deelnemers kan lekker pryse losslaan.
Diegene wat hulle neuse vir avokado’s optrek gaan nie uitgesluit word nie. Daar sal hope vars vrugte en groente, heuning, konfyt, tuisgebak en ander produkte beskikbaar wees. Feesgangers kan na David Dee se optrede, ‘n honde-vertoning, ‘n demonstrasie deur ‘n slanghanteerder en ‘n optrede deur die Steven Hamilton- doedelsak-orkes uitsien. Hulle kan ook by die teetuin aansit en motorgeesdriftiges moet op die uitkyk wees vir klassieke motors wat uitgestal gaan word. Daar gaan ‘n biertent met grootskerm-TV’s wees, waar die manne die wedstryde kan kyk. Die kleinspan kan uitsien na, onder meer, ‘n lekker springkasteel.
Toegangsfooie beloop R50 per voertuig. Bespreek jou kaartjies by www.avofest.co.za.
Navrae: Chris Rogers by 082-893-5366, Lauren by 073-236-0979 of Bonnie by 073-375-6000.
