FeaturesLifestyle

Word ‘n beenmurgskenker en red ‘n lewe

Dit is moeilik om 'n gepaste skenker te vind omdat daar soveel tipes weefsel bestaan.

Jeugdiges is hierdie jaar die fokus van die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) se Antitabakmaand. Die organisasie wat homself toespits op ondersteuning, navorsing, behandeling en voorkoming, het ook aangedui dat leukemie die kanker is wat die meeste onder kinders voorkom.

Volgens die Sunflower Fund, wat homself daarvoor beywer om meer beenmurgskenkers namens die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister (SABMR) te vind, is 75 persent van die mense wat jaarliks in Suid-Afrika met siektes soos leukemie, waarvoor beenmurgoorplantings noodsaaklik is, gediagnoseer word, jonger as 25 jaar. “Hul enigste hoop is ‘n bloedstamsel-oorplanting van ‘n skenker met dieselfde weefseltipe.”

Beenmurg kom in die bopunte van groot bene soos die femur (bobeen) voor en produseer rooibloedselle wat suurstof vervoer, witbloedselle wat infeksies beveg en plaatjies wat bloed laat stol. Pasiënte met siektes wat dit aantas, word dan dikwels met beenmurgstamsel-oorplantings behandel ten einde nuwe gesonde bloed te kan produseer.

Dit is egter nie maklik bekombaar nie. Aan die ander kant is dit maklik om te skenk – dis vining en verniet. Selfs om as ‘n orgaanskenker op die nasionale stigting se webtuiste te registreer, neem minder as vier minute, mits jy nie ook ‘n finansiële bydrae lewer nie. Die nasionale bloeddiens reken een skenking kan ongeveer vier lewens red. Volgens die orgaan-skenkingstigting, kan ‘n mens met ‘n hart, twee longe, ‘n lewer, twee niere en ‘n pankreas sewe lewens red, sou dit daarop aankom.

Die proses om ‘n beenmurgskenker te word, is meer ingewikkeld en boonop baie duur. Volgens Vuya Afrika is dié oorplantings een van die top-tien duurste mediese prosedures in Suid-Afrika.
“Die oorplanting van die beenmurg self is nie duur nie. Wat dit so duur maak, is laboratoriumtoetse om ‘n gepaste skenker te vind en die weefsel te oes en te toets.”

Die kanse om ‘n gepaste skenker te vind is omtrent 1:100 000. Laevelder het verlede jaar oor twee jong akute myeloid-leukemielyers berig. Vijilia Esquino en Mariëtte Potgieter was skaars uit hul tienerjare toe hulle albei verlede jaar dood is, nadat daar nie geskikte beenmurgskenkers vir hulle gevind kon word nie.

Die Sunflower Fund verduidelik dat dit so moeilik is om ‘n gepaste skenker te vind omdat daar soveel verskillende tipes weefsel bestaan.

Hoewel broers en susters oor die algemeen die mees gepaste skenkers uitmaak, het net ‘n klein persentasie pasiënte so ‘n familielid.

Die weefseltipes word geneties oorgedra en die kanse is beter om ‘n skenker binne dieselfde etniese groep te vind. Suid-Afrika se diversiteit veroorsaak ook ‘n wye en meer gevarieerde geenpoel, wat dit nog moeiliker maak vir mense om gepaste skenkers plaaslik op te spoor. SABMR koördineer dus die voorsiening van skenkers met pasiënte plaaslik en deur internasionale databasisse.

“Baie moontlike weefseltipes bestaan, so om die korrekte skenker te vind, hang grootliks af van ‘n baie groot register van moontlike skenkers.”

Om te help met die koste van toeste, is die Sunflower Fund gestig. Volgens die organisasie beloop die kostes R250 vir die aanvanklike weefseltipering, en R800 tot
R1 200 vir die sekondêre toetse.

Voornemende skenkers gee aanvanklik bloed waarop die weefseltipering in laboratoriums gedoen word. Hiervolgens word hulle op die databasisse as moontlike skenkers vir spesifieke pasiënte opgespoor.

Hulle word dan gevra om nog bloed te voorsien om hul weefseltipe se versoenbaarheid met die pasiënt s’n te bepaal.

Skenkers wat gekies word moet dan spesiale oessentrums besoek om die stamselle se skenk. Sommige mediese fondse se spaarplanne kan die kostes van toeste vir voornemende skenkers dek. As ‘n alternatief kan voornemende skenkers by die Sunflower Fund registreer, wat mense toets namate befondsing daarvoor beskikbaar word.

Om ‘n skenker te wees, moet jy tussen 18 en 45 jaar oud wees en algemene goeie gesondheid geniet.

Navrae: www.sunflowerfund.org.za en www.odf.org.za

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button