FeaturesInnibos NuusLifestyle

Paul Boekkooi resenseer Jannie du Toit se ‘Doep is nie dood nie’

'Doep is nie dood nie kon so maklik in die verkeerde hande 'n gevaarlike misstap wees, maar Du Toit was al van die vroegste jare af 'n vertroueling van Doep.'

Soos wat die tyd aanstap, is dit nou reeds ruim 30 jaar ná sy te vroegtydige dood en word dit al hoe moeiliker om Koos du Plessis se werk in hokkies te plaas. Hy was self dan juis die man wat kategorieë gehaat het en daar uitgebreek het voordat dit ooit of enigsins ‘n houvas op hom kon kry.
Sy kunstenaarskap was nooit na buite gerig nie. Trouens, die moontlikheid van faam en roem het hom laat sidder. In onsekerheid en menslike feilbaarheid het die vonk van sy kreatiwiteit vlam gevat en nou, dekades later, identifiseer ons des te sterker met sy swerwersdrif, sy grenslose digterlike fantasie, maar ook sy fokus op realiteite.
Neem die twee reëls “…en van die vurige hofmaak / hoor ons later in die hofsaak…” uit Skadu’s teen die muur: By die aanhoor van Jannie du Toit se weergawe van dié lied trek die ietwat siniese ironie daarvan soos ‘n elektriese skokgolf teen jou rugstring af.
Doep is nie dood nie kon so maklik in die verkeerde hande ‘n gevaarlike misstap wees, maar Du Toit was al van die vroegste jare af ‘n vertroueling van Doep. Daar is ‘n egtheid in die wyse waarop hy dié skepper van sy eie musiek en lirieke met ons persoonlik laat kommunikeer sonder dat ‘n mens ooit die gevoel kry dat enigiets geïnterpreteer, of nog erger, geherinterpreteer word.
Ook die verwerkings deur Clinten Zerf enersyds of die kombinasie van Du Toit en Susan Mouton andersyds, verander niks essensieels aan die eenvoud van Du Plessis se musiek nie, maar bring tog soms ‘n musikaal subtiele tematiese subteks na vore wat iets diepers belig.
In dié program van 21 wyd- uiteenlopende en selfs ook ‘n aantal minder bekende Du Plessis-werke, word die veelsydigheid van sy oeuvre binne kettingrye van kleinode geopenbaar. Daar is Onder die Suiderkruis, so oorvloedig van lewenswysheid en ironie, Boshoek met sy dwalende nostalgiese gedagtes, die loslittige Nes ek wil, of Kouevuur waarin hy op ‘n treffend gesublimeerde wyse na sy eie persoonlike krisisse verwys. Met Droomswendelaar besef jy dat sulke troebadoers al begin uitsterf het.
Du Toit, die pianis en akkordeonspeler Clinton Zerf en die tjellis Susan Mouton, is lewensgetroue herskeppers rondom die gees van ‘n stem wat onuitdoofbaar universeel binne die Afrikaanse digter- en liedereskat geword het.
Du Toit besit met sy immer meevoerende stem, sensitiewe vertolking en wydlopende verhoogervaring die sleutels om die tydloosheid van Koos du Plessis te ontsluit.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button