
MBOMBELA – Daar is niks so lekker soos om uit jou maag uit te lag totdat die trane loop en jou maagspiere seer word nie. Of dit nou vir ‘n grappie is of ‘n snaakse program op telivisie, dit bly lekker. Nie net voel jy tien stukke beter nie, maar jy steek die mense om jou aan om saam te lag. En die beste van alles is – dit is verniet. Daar is ‘n spreekwoord, “lag is die beste medisyne” en dit is nou die een “middel” wat geen newe-effekte het nie.
Laevelder het die gemeenskap op sosiale media gevra wat hulle dink die voordele van lekker lag is. Charmain Wilcox Wies sê ‘n kollega van haar het altyd gesê, “it heals the bones,” sy het haar enigste seun verloor en meen lag is goed vir die lyf en siel. Letitia Naude Kruger voel dit is beslis ‘n gemoedsopkikker en Charmain Smidt Tecklenburg beskryf lag as ‘n stresverligter.
Dr. Jacob D. van Zyl, kliniese en pastorale sielkundige, meen om te lag, dra inderdaad by tot ons oorlewing en beter aanpassing in moeilike en uitdagende tye. “Dit stel endorfiene vry wat “voel goed – hormone” is en dra ook by tot die vrystelling van serotoniene en dopamiene as oordragstowwe tussen die neurone van die brein wat dan ‘n natuurlike antidepressant vorm,” sê hy.
Om te lag dra ‘n positiewe boodskap oor aan ander – dat jy die positiewe kant van die lewe sien en as’t ware liefde bewys. Van Zyl voel ook dat dit verder ‘n bewys van gemoedelike samesyn of gemeensaamheid is.
“Om te lag vir jouself kan ook ‘n bewys wees daarvan dat jy jouself nie te ernstig opneem nie en oor die vermoë beskik om met jouself te spot,” sê Van Zyl.
