FeaturesLifestyle

Taxi ry – so eenvoudig soos telefoontjie speel en boonop goedkoop

Openbare vervoer is 'n ervaring op sy eie. Ons hofverslaggewer vertel van haar wedervaringe as taxi passassier.

MBOMBELA – “Windie, windie, windie, windie!” Hoor my lied, taxi-ry is ‘n universele taal.
Vra my gerus, as hofverslaggewer boer ek in Besterstraat, waar dit ‘n besige bedryf is. Ek was die afgelope maand bitter dankbaar hiervoor!
Ek het tot onlangs ‘n kar besit – sy naam was Borgtog. Hy het ongelukkig tydens ‘n middernagtelike uitstappie in die buitewyke van ons stad gesneuwel.
So daag ek toe karloos en met ‘n rooi gesig en ‘n potblou maermerrie by die werk op. Die dagtaak moes gedoen word en om tussen Vintonia en Besterstraat te beweeg, was ‘n uitdaging. Ek het ‘n rit hof toe gebedel, maar gou besef dat ek nie so bakhand deur die week sou kom nie. Ek het skaam-skaam gaan navraag doen: “How do I do this taxi thing?” vra ek vir die sekuriteitswag buite die hof. Ek is na die Meter Taxi-dienste toe verwys waar ek vir Sbu ontmoet het.
Sbu is ‘n modebewuste jongman met ‘n hipster-bril en ‘n stywepypbroek. ‘n Blink dollar-teken hang aan sy voertuig se spieëltjie. Dis heel gepas – ‘n rit jaag passasiers R40 uit die sak.
Henry’s Meter Taxi was net so duur – dit is blykbaar die standaardfooi. Henry se rygeleenthede kom met gratis beradingsessies. Toe ek per geleentheid byna hiperventileer oor my versekeringseis wat te lank neem, beduie hy met sy hand en grawe onder sy sitplek: “Madam, collect yourself,” beveel hy. Daar bring hy toe ‘n piesang te voorskyn. “Here, madam. Calm down, have a banana.”
Nie eers ‘n trós piesangs kon hierdie madam kalmeer toe sy R250 moes uithaal vir ‘n rit Witrivier toe nie. Nee dankie, ek gooi liewer duim! Oftewel, wysvinger – soos dit ‘n wafferse minibuspassasier betaam. Dit het gou duidelik geword dat doodgewone minibustaxi’s vinniger is en goedkoper uitwerk. Aanvanklik is ek met ‘n gegiggel begroet wanneer ek met my hoëhakskoene en my aktetas vinger-in-die-lug langs die pad staan. Ek en Suid-Afrika se gewildste vervoersisteem het mekaar egter gou gewoond geraak. Die periodieke getoet-toet en Ligwalagwala FM se klanke het my al so te sê laat tuis voel. Teen R10 per rit is dit absoluut die moeite werd.
Dis so eenvoudig soos telefoontjie speel: jy steek jou hand in die lug en word opgelaai as jy en die taxi in dieselfde rigting op pad is. Dan skuifel jy tussen die passasiers in. Dis lekker om langs ‘n gemoedelike tante te sit – ‘n mens verlang sommer na jou ma. Dan was daar ook ‘n karakter met die naam Gilbert wat baie soos die Niknaks-mannetjie gelyk het en net nie kon ophou grappies vertel nie.
Geselsies word hier en daar aangeknoop, maar die stiltes is nie noodwendig ongemaklik nie. Wanneer jou bestemming amper bereik is, tik jy op die persoon voor jou se skouer. Hierdie getikkery word a-la-telefoontjie aangestuur tot voor by die bestuurder, wat dan by die volgende verkeerslig tot stilstand kom. Teen daardie tyd het ek, my kamera, handsak en aktetas al tot voor in die minibus geskuifel met my R10-noot in die hand. Die geld word in die bakkie tussen die twee voorste sitplekke gedeponeer en almal groet vriendelik voordat “sêssie” al wuifend by die deur uit is. My versekeringseis het intussen uitbetaal en ek en Rooies rits nou slegs in die daglig in die strate van Mbombela rond.
Die minibustaxibedryf sal beslis weer my ondersteuning geniet –
dit werk in elk geval soms goedkoper uit as om met ou Rooies op en af te rits. Amaglug-glug is egter ‘n duur affêre, ons sal maar die sente moet omdraai.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button