EntertainmentLifestyle

Strikdas – Nelspruit Post knoop ‘n geselsie aan…

Die man agter die Strikdas-kamera klets met ons koerant. En raai wat? Hy sal selfs hier in die Laeveld 'n fliek kom maak!

Stefan Niewoudt is regisseur van die nuwe Afrikaanse fliek Strikdas, waarvan die première op 31 Maart hier Mbombela vertoon gaan word. Die fliek word amptelik op 2 April vrygestel. Nelspruit Post het met hom oor Strikdas gesels en sommer prontuit gevra of hy nie hier by ons ‘n fliek wil kom maak nie. Dié man is oop vir so ‘n uitdaging!

Strikdas vertel die storie van Don “Vossie” Vorster, ’n geeky diereliefhebber met ’n baie goeie hart. Met sy vertrek na die Universiteit van Stellenbosch, oorhandig sy pa ‘n strikdas aan hom wat van geslag tot geslag oorgedra word.
Hy durf die universiteitslewe aan – gewapen met die strikdas – en een van sy studentestreke lei tot ‘n skreeusnaakse situasie waartydens hy die beeldskone Willemien de la Harpe ontmoet. Vossie moet behoorlik uithaal en wys om haar hart te probeer wen. Sonder om die aap uit die mou te laat oor wat uiteindelik met Vossie gebeur, vertel Stefan dat die ou se storie ‘n mens laat lê van die lag.

“Ons het beoog dat fliekgangers met ‘n glimlag by die teater moet uitstap. Hoe langer jy daarna kyk, hoe lekkerder moet dit word. Ons wil jou regtig vermaak met hierdie film. Dit het ‘n sterk hart en die karakters lok jou sommer nader. Die hele gesin sal deel voel van wat in die fliek gebeur, alhoewel jongmense dit in die besonder sal geniet.”

Kaz McFadden en Leandie du Randt speel die twee karakters waarom alles draai. Die gewilde Gys de Villiers en Elsabe Daneel is ook in die fliek te sien saam met nog groot name soos Albert Maritz, Susanne Beyers, Sandra Kotze, en Marcel Engelbrecht. Robin Smith, Maridi Jooste, Sean-Marco Vorster, Andrea Pienaar en Karlie Heine is ook te sien.

Nelspruit Post: Vertel ons van ‘n dag op die stel. Hoe maak ‘n mens ‘n fliek?
Stefan Niewoudt: Ah! Geen twee dae op die stel is ooit dieselfde nie. Die werksdag is gewoonlik twaalf ure lank en kan enige tyd van die dag begin – van sesuur soggens tot twaalfuur snags.

NP: Dit gaan seker gepaard met baie druk?
SN: Daar is maar altyd druk. Elke dag het ‘n sekere hoeveelheid bladsye waarvan die tonele geskiet moet word voordat jy kan huis toe gaan. Die akteurs word geblok vir elke toneel en ons kyk hoe hulle die tonele speel. Almal kyk dan saam met die tegniese span daarna en besluit finaal hoe die tonele geskiet gaan word. Die ligte, grimering, die karakters se klere en die stel word voorberei en dan begin ons die toneel skiet.

NP: Watter deel is vir jou die lekkerste?
SN: Die lekkerste deel is om te kyk hoe die akteurs die draaiboek lewendig maak. Groot tonele met baie elemente, karakters en ekstras kan uitdagend word – dis lekker!
My werk as regisseur is om, saam met ‘n goeie span agter die kameras, die spelers op hul gemak te plaas en hul ruimte te gee om te floreer.

NP: So Stefan, kom jy Laeveld toe?
SN: Ek hoor Mbombela is ‘n lekker kuierplek en wil binnekort daar kom draai. Julle het die wildtuin en die pragtigste landskappe. Dit sal great wees om daar ‘n fliek te kan maak.

NP: Hoe gaan ons hier ‘n fliek maak?
SN: ‘n Mens moet net die regte storie kry om daar in die Laeveld te vertel. Soos wat Strikdas se storie in Stellenbosch en Vrede en Lust vertel kon word. As daar enige idees daar buite is, laat weet my!

Só lyk die man met wie ons lekker oor Strikdas gesels het - Stefan Niewoudt. (Foto: Facebook)
Só lyk die man met wie ons lekker oor Strikdas gesels het – Stefan Niewoudt.
(Foto: Facebook)

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button