EntertainmentLifestyle

Steve slaan weer toe

Steve Hofmeyr se nuutste, 'n huldeblyk aan country-musiek, tref die winkelrakke.

Steve Hofmeyr se huldeblyk aan country-musiek, If you could read my mind, is hierdie veelsydige kunstenaar se 28ste album-uitreiking.

Dis nie die eerste keer dat Steve hulde bring aan country-legendes nie; in 2008 het hy die album Help me through the night, wat uit Kris Kristoffersen se liedjies bestaan, uitgereik.

Tydens ‘n loopbaan wat meer as 25 jaar strek, ken Steve se kreatiwiteit geen perke nie.

Buiten sing is hy bekend vir die kwaliteit en kwantiteit van die liedjies en boeke wat hy skryf, rolprentrolle en sterk sosiale kommentaar op vele forums.

steve hofmeyr

Met die uitreiking van sy nuutste vernuwe Steve homself weer as sanger en na sewe jaar keer hy terug na een van die gewildste musiekmediums ter wêreld, asook sy eerste liefde: country.

Dit bestaan uit 15 van die mooiste country-liedjies en bevat ook ‘n pragtige en roerende verwerking van “Teach Your Children”, ‘n snit wat Steve saam met die gewilde Coleske-broers, Ewald en Arnold, opgeneem het.

Die bekroonde Juan “Floors” Oosthuizen, wat in 2015 ‘n kykNET Ghoema-toekenning vir Beste Vervaardiger gewen het, het die album opgeneem en vervaardig.

Steve is opgewonde oor ‘n projek wat duidelik na aan sy  hart lê.

“Hierdie liedjies spook by ‘n mens. Hulle laat jou nie sommer gaan. Ook die liedjies wat nie veronderstel was om ooit country te wees nie, het ons subtiel aangepas sodat hulle wel soos dié genre klink.”

Ander treffers waarna aanhangers kan uitsien, is The Eagles se “Heartache Tonight”, “The Gambler” (bekend gemaak deur Kenny Rogers), Creedence Clearwater Revival se treffer “Have You Ever Seen The Rain”, Steve Perry se “Oh Sherrie”, Joe South se “Games People Play”, “Photograph” deur Ringo Starr, en “Hey Mr. Dream-Maker” deur Cliff Richard.

If you could read my mind is vanaf 6 November op iTunes en landwyd by musiekwinkels beskikbaar.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button