‘n Fusie van humor en talent
Rocco het sy nuwe geestelike album ook aan die gehoor bekendgestel en die speel van gunstelinge soos "Amazing Grace" en "Hoe Groot is U" het vir hoedervleis-oomblikke gesorg.
WITRIVIER – Rocco de Villiers is Suid-Afrika se eie Liberace. Jy hou of baie van hom, of niks. Hy is imposant, speel met oorgawe en om hom voor die klavier dop te hou, is ‘n ervaring op sigself. Saterdagaand het Rocco weer voor ‘n volgepakte Casterbridge-teater meer as 90 minute se topvermaak gebied.
Rocco het sy nuwe geestelike album ook aan die gehoor bekendgestel en die speel van gunstelinge soos “Amazing Grace” en “Hoe Groot is U” het vir hoedervleis-oomblikke gesorg. Rocco het het die kuns vervolmaak om die gehoor in die palm van sy hand te hou met persoonlike staaltjies en stories oor sy lewenspad, wat dan die keuse van sy klavierstukke in konteks plaas. So was dit dan die kerkorrelis uit sy kinderjare wat hom grensloos geïrriteer het met haar gesange wat hom sover gekry het om sy jongste album saam te stel. Hy wou ‘n nuwe klank aan dié liedere gee en het dit afgestof en vars gemaak vir die gehoor van vandag.
By dié vertoning het Rocco lekker interaktief met sy gehoor saamgekuier. Hy is humoristies en sien die komiese in meeste situasies. Die aand het ook vir ‘n verrassing gesorg toe Rocco ‘n jongman, Egbert Wright geroep het wat voor die vertoning self op die verhoog geklim het om die klavier van naderby te beskou. Min wetend dat Egbert self begaafd is op die klawers, het Rocco hom uitgedaag om iets te speel en hy het met Chopin se “Black Keys” wegval.
Een van Rocco se eie komposisies, “Anna Aeroplane”, het (sonder dat hy dit geweet het) ook ‘n Laeveldse kinkel. Hy het die storie vertel van ‘n vriendin, Anna Pauw, wat ‘n aangenome kind is. Sy het hom op ‘n keer gepols oor hoekom hy nie een aanneem nie, en hy het verduidelik dat sy leefstyl nie tot voordeel van ‘n kind se opvoeding sal wees nie.
Dié scenario het hy met humoristiese kwinkslae volgeprop. Hy het vertel hoe hy Anna gevra het waar sy vandaan kom en dat sy geantwoord het dat haar ouers haar van kleintyd vertel het dat sy “met die aeroplane”gekom het. Dit was nie heeltemal verkeerd nie, want haar argitek-pa en ma het van Bloemfontein na Johannesburg gereis om haar by die hospitaal te gaan haal.
Dis hiér waar Anna se verhaal plaaslik word. Einste Anna het in die laat 90’s as ‘n grafiese kunstenaar by Laevelder gewerk. In dié tyd het sy self ma van twee kinders geword en wou meer oor haar direkte familie se genetiese en mediese geskiedenis weet. In ‘n ondersoek het ons uiteindelik haar ma opgespoor en hoewel sy nooit direk met haar gepraat het nie, het ek as tussenganger alles uitgevind wat Anna wou weet en ook haar ma se vrae beantwoord. “Anna Aeroplane” bly vandag in die Oos-Kaap waar sy as joernalis werk.



