Rock ‘n plek los in die Innibos-kollig
Innibos bied vanjaar vir die eerste keer 'n landwye kompetisie aan vir bands om tydens die 2016-fees op die MK-rockverhoog op te tree

MBOMBELA – Jy is deel van die coolste band met die beste songs ooit, net jammer die enigste gehoor wat julle tot dusver gehad het, is jou ouers (want die huis waar julle jam behoort aan hulle) en jou klein sussie (want sy is met selfoondata omgekoop). Gryp nóú die kitare, want dit is tyd vir roer en rumoer op die verhoog om R25 000 los te rock!
Innibos bied vanjaar vir die eerste keer ‘n landwye kompetisie aan vir bands om tydens die 2016-fees op die MK-rockverhoog op te tree en mee te ding. Boonop sal die twee wenners die volgende aand in die line-up wees van die grootste rockkonsert op die hoofverhoog met Karen Zoid, Kahn Morbee, Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, Black Cat Bones, Dan Patlansky en Albert Frost. Dít is cool.
Alle bands landwyd wat uit drie maar nie meer as ses lede bestaan nie – waarvan almal ouer as 18 is – en nuut op die toneel is, kan vir die Innibos RockRumoer-kompetisie inskryf. As julle reeds gevestig is en ‘n CD-kontrak het, mag julle net kom kyk en luister.
Rockers moet egter gou spring, want hoewel die kunstefees eers einde Junie 2016 afskop, is die sluitingsdatum vir die kompetisie reeds 29 Februarie 2016 en geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.
Om in te skryf, moet elke band ‘n videosnit en twee liedjies (in MP3-formaat) saamstel, waarvan 20 finaliste s’n op die Innibos-webwerf geplaas word. Nadat die publiek en fans vir hulle gunsteling gestem het, sal 10 finaliste op 2 Mei 2016 aangekondig word.
Al 10 finaliste sal Woensdag 29 Junie tydens die Innibos RockRumoer-kompetisie op die MK-verhoog optree – ‘n ware battle of the bands. ‘n Keuringspaneel bestaande uit gevestigde rockkunstenaars en bekendes in die musiekbedryf sal twee groepe aanwys waarvan een die volgende aand tydens die rockkonsert as die top-band uit die stryd van die snare sal tree met R25 000 se wengeld
in die sak.
Pryse sal ook aan die beste sanger, die beste kitaarspeler, die beste tromspeler en die beste baskitaarspeler toegeken word. Elkeen van dié wenners kry R1 000. Innibos weet bands meestal meer betaal om by gigs uit te kom as wat hulle verdien, daarom word ‘n reistoelaag, slaapplek in ‘n koshuis en eetbewyse aan al 10 finaliste verskaf.
“Daar is ‘n magdom talentvolle rockers wat verdien om gehoor te word, en met die RockRumoer-kompetisie wil Innibos-kunstefees hulle ‘n kans gee,” sê Adelene Niehaus van Innibos, projekbestuurder van die kompetisie. “Met die bystand van uitsonderlike tegnici met klank en beligting, glo ek ons gaan lekker verras wees deur die gehalte van die bands. Ons hoop die RockRumoer word dié kompetisie waar nuwe rockers hulle kan laat geld.”
Vir meer inligting en inskrywingsvorms, kyk op www.innibos.co.za onder “inskrywingsvorms” of e-pos adelene@innibos.co.za.
