Kyk: Saarkie stel musiekvideo vry vir “Dullstroom”
Dis die eerste musiekvideo vanaf hulle nuutste album "Reisiger".

Saarkie is al bekend vir die kombinasie van die talent en passievolle energie in hulle musiek. Dié dinamika en sinergie gee hul die eiesoortige styl waaroor aanhangers dol is.
Die groep het pas die musiekvideo uitgereik vir “Dullstroom”, hul eerste enkelsnit vanaf hulle splinternuwe en derde album, “Reisiger”.
Die album is vroeg vanjaar uitgereik en is vervaardig deur Sean Manley en Zanda Greeff. Dit bestaan uit 12 liedjies en sluit in “Afrikaland”, “Freefalling”, “Vroue van Afrika”, “Reisiger”, “Chuck Norris”, “Trust”, “One Love”, “My jeug”, “Kamers van my hart”, “Ai, my lam”, en “Nader aan my”.
“Dullstroom” gaan oor die onvergeetlike herinneringe wat in die klein dorpie in Mpumalanga gemaak is.
Dit vertel van die beeldskone natuur, die doodse stilte in die winternagte, die kuier en lag by die plaaslike brouery, die munte op die treinspoor.
Die groep vertel: “Ons as Saarkie is baie trots en opgewonde om terug te kan kyk na die harde werk en moeite wat almal ingesit het om van ons derde album, ‘Reisiger’, ‘n sukses te maak.
“Dit was ‘n ongelooflike ervaring en ‘n leerskool wat ons deur diep waters gevat het, maar ook gemotiveer het om hard te werk en dinge op te offer vir wat jy in die lewe wil hê.
“Ons toer gereeld deur die land en sien soms die interessantste dorpies en mense. Wanneer ons nie op die pad was nie, het ons ‘liedjieskryf wegbreke’ gehad na plekke soos Botswana en Mosambiek of sommer net n lekker kamp langs ‘n dam.
“Ons album gaan oor die reise van die lewe asook die reise na die plekke wat soveel stories en herinneringe in ons harte ingekerf het. Om ‘n suksesvolle album te maak in hierdie kompeterende industrie is baie uitdagend, maar ons het elke dag tree-vir-tree die struikelblokke oorkom en die inspirasie gekry om te skryf oor ons ervarings.
“Dit is so lekker om ons passie te kan uitleef en dit in ons liedjies met die mense te deel. Die skryf van die album het baie tyd en moeite gekos en almal wat bygedra het, het met hart en siel aan die album gewerk. Ons is baie dankbaar vir die ongelooflike span wat agter ons staan.”

Adèle Fouché is die hoofsanger, speel kitaar en mondfluitjie. Lila Botha speel dromme en is ook agtergrondstem. Lourene Mostert speel die baskitaar, klawerboard en is ook agtergrondstem.
Beide Adèle en Lila is van Boksburg afkomstig en sedert kleuterskool al vriendinne. Hulle is saam na Laerskool Baanbreker en vandaar saam na Dr. EG Jansen. Lourene is van Centurion, het eers op Messina gewoon, maar toe behoorlik haar wortels in Centurion gevestig.
Besoek hulle webblad en volg hulle op Twitter @SaarkieBand.
Besprekings: Elize by 082-575-3184 of info@saarkie.com.
