Jason du Plessis beïndruk by Stoep
Die vol tafels het geskreeu: "Ons soek meer!"
MBOMBELA – Talent, waagmoed en ‘n ystere wil. Hierdie kombinasie het Jason du Plessis binne ‘n jaar ‘n gedaanteverwisseling laat ondergaan. Waar hy teen hierdie tyd in 2015 nog sy voete in die musiekbedryf gevind het, is hy nou ‘n sanger in eie reg. Dit kon enigeen duidelik sien en hoor toe hy Vrydagaand by Stoep opgetree het.
Dit was net Jason, sy stem en sy mikrofoon op die verhoog.
En dit was genoeg. Met sy geoefende stem het hy behendig verskeie toonhoogtes baasgeraak. Sy lae note het gemaklik en warm oorgekom terwyl hoër note ook nie gehuiwer het nie. Dié jongman se suiwer stem het dit ‘n plesier gemaak om na hom te luister. Wanneer hy Neil Diamond- en Josh Groban-treffers gesing het, het hy sy eie klank daaraan verleen terwyl sy talent steeds die liedjies soos ‘n huldeblyk aan die oorspronklike sangers laat klink het.
Die hoogtepunt van die aand was ongetwyfeld sy opvoering van sy nuwe enkelsnit “Soos net jy kan”. Anders as met sommige Afrikaanse doef-doef-liedjies, is daar diepte aan die lirieke en die agtergrondmusiek is meer ingewikkeld as ‘n bokkie-rokkie-sokkie-mengelmoes met drie repeterende akkoorde. Drie dansers het by hom aangesluit en hierdie visuele element het by die liedjie gepas.
Plaaslike aanhangers kan skaars glo dat dit dieselfde Jason is wat ‘n jaar gelede sy sangloopbaan ‘n kans gegee het tydens ‘n open-mic aand by dieselfde restaurant. Hy is luidkeels toege-juig en die vol tafels het geskreeu: “Ons soek meer!” Hy het die aand afgesluit met ‘n weergawe van “I am I said” wat Neil Diamond se goedkeuring sou wegdra. Jason is ‘n Laevelder wat hoogtes gaan bereik in die musiekbedryf. Hou hom maar dop.
Sien foto’s van Jason du Plessis se Stoep optrede
