EntertainmentHome pageLifestyle

Tobi Jooste in die Laeveld

Jooste is nie onbekend in vermaaklikheidskringe nie en is nie net 'n suksesvolle sanger nie, maar ook 'n skrywer, televisie-aanbieder en motiveringspreker - onder andere.

Vermaaklikheidskunstenaar, Tobi Jooste, het die afgelope naweek die Laeveld besoek om sy DVD, Die Katedraal, bekend te stel.

Die bekendstelling het by Nelspruit-Westergloed se NG Gemeente afgeskop en is later by Weylandts voor ‘n uitgesoekte gehoor voortgesit. Die geleentheid is deur Timeless Productions gereël.

Jooste het Die Katedraal uitgereik om sy tiende jaar in die musiekbedryf te vier. “Ek het besluit om, in die plek van ‘n groot konsert of partytjie, ‘n dvd uit te reik om iets terug te gee aan God. Die Katedraal is danksegging vir ‘n suksesvolle dekade as sanger,” sê hy. Die musiekvideo’s is in die skilderagtige St. George Anglikaanse kerk in Parktown, Johannesburg opgeneem.

Jooste het sy optrede by Westergloed begin met ‘n weergawe van “Amazing Grace” – hy sing die verskillende verse van hierdie bekende lied in Afrikaans, Engels en Latyn. Hy het ook “Nagmaalslied”, ‘n komposisie van oud-Laevelder, Willie Joubert, en “Gebed” van Koos du Plessis gesing. Hy vertel dat min mense weet dat Jannie du Toit die laaste strofe van hierdie aangrypende lied na du Plessis se dood geskryf het.

Die Sweedse As it is in Heaven is sy gunsteling-fliek en hy het toestemming by die komponiste van “Gabriella’s Song” gekry om Afrikaanse woorde op die melodie te skryf. Die resultaat, “Begin te Leef” verskyn ook op Die Katedraal.
Sy liefde vir Italiaanse musiek en opleiding in opera blyk duidelik uit sy keuse van musiek én sangstyl. Hy het die gehoor by Weylandts met, onder andere, ‘n aria uit La Traviata van Giuseppe Verdi vermaak.

Jooste is nie onbekend in vermaaklikheidskringe nie en is nie net ‘n suksesvolle sanger nie, maar ook ‘n skrywer, televisie-aanbieder en motiveringspreker – onder andere.

Hy het dele uit sy boek Daar is ‘n Eiffeltoring in Sy Boedel, wat in 2014 op die lys van top-10 beste Afrikaanse verkopers verskyn het, aan die gaste by Weylandts voorgelees. ‘n Herdruk van die boek is nou beskikbaar.

Jooste se webwerf kan by www.tobijooste.co.za besoek word vir meer inligting. Sy cd’s, dvd en boek is daar beskikbaar.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button