Tee onder ‘n blaredak
Kreatiewe gasvroue het tafels volgens die tema versier en gaste het so reg uit sprokiesboeke aangetrek. Die Mad Hatter en Red Queen uit Alice in Wonderland, Pan en ander kreature uit Narnia en tientalle feetjies het lekker gekuier en saam 'n lieflike Laeveld-dag op die rand van Laeveldse Botaniese Tuin geniet.

MBOMBELA – KANSA het die afgelope Woensdag, soos gewoonlik, vir groot opwinding onder Laeveldse vroue gesorg met hul agtste jaarlikse teepartytjie in die botaniese tuin.
Die tema was “Forest Fantasy” en tafels so reg uit ‘n feëverhaal het die tuin van Southern Sun Emnotweni vir ‘n paar uur lank in ‘n sprokieswêreld omskep.
Kreatiewe gasvroue het tafels volgens die tema versier en gaste het so reg uit sprokiesboeke aangetrek. Die Mad Hatter en Red Queen uit Alice in Wonderland, Pan en ander kreature uit Narnia en tientalle feetjies het lekker gekuier en saam ‘n lieflike Laeveld-dag op die rand van Laeveldse Botaniese Tuin geniet.
Volgens beoordelaars is die kompetisie vir die keurigste tafel elke jaar strawwer. Vanjaar het drie tafels uitgestaan – dié van Nashua, Classic Flowers en Lime Juice. Nashua se silwer-en-wittafel het sterk gekontrasteer met die groen-en-bruinbostema van die ander tafels en dié van Classic Flowers het die indruk van ‘n piekniek onder die blaredak geskep.
Dit is egter Lime Juice Communication wat met hul living forest floor-tema met die prys weggestap het. Hulle het lewendige plante in hul tafelversierings gebruik wat later herwin kon word.
Dave Walters het gaste met sy geoefende omroeperstem vermaak en so ewe uit Shakespeare voorgelees. Later is gaste met ‘n modeparade getrakteer en brawe modelle het onderklere, swemklere en juwele vertoon.
Alhoewel die geleentheid vir groot grappies en pret gesorg het, bly dit steeds ‘n groot fondsinsameling vir KANSA. Groot pryse is ten bate van die vereniging opgeveil en die tafels is teen ‘n prys aan gasvroue verkoop.























