EntertainmentLifestyle

Kies en keur uit die beste van Innibos

Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Mbombela het die bal aan die rol gesit vir 'n fees met nog méér vermaak as tevore. Innibos vind vanjaar van Woensdag 27 Junie tot Saterdag 30 Junie plaas.

Dit skop op die eerste feesdag af met ‘n kuns-in-bewegingparade waaraan meer as 800 mense deelneem en oudergewoonte word die gratis Loof Hom Innibos-konsert nog Sondagaand ter afsluiting op die Standard Bank-hoofverhoog gehou. Meer as 300 kunstenaars tree vanjaar op die feesterrein op wat vier kuierverhoë sowel as die Standard Bank-hoofverhoog insluit. In die Boma-kuierteater is onder meer gratis kort toneelstukke en teatergesprekke te sien, terwyl die gewilde Bosmôl met 76 nuwe uitstallers spog.Meer as 20 films draai by die kykNET-Bosbioskoop en vir die kleinspan is daar ook leersame en lekker opvoerings en aktiwiteite by die Woelwaters-kindervenue. Al dié vermaak is gratis en by die hektoegang ingesluit.

Elize Cawood en Wilson Dunster in Mike and Mavis.

Op die planke
Die vier debuutproduksies is Kleedkamer Blues met onder andere De Klerk Oelofse en Wessel Pretorius en Marthinus Basson as regisseur; Soebatsfontein met Sandra Prinsloo en Franci Swanepoel in ‘n drama oor twee vriendinne op ‘n padreis; 3 Susters met Nicole Holm, Margit Meyer-Rödenbeck en Lizz Meiring wat deur die slaggate en mynvelde van vrou-, dogter- en mawees reis; en die komedie Antie Pohl. Dié stuk handel oor die teenpole wat mekaar aantrek en Sorina Erasmus en Cobus Venter speel daarin. Die veelbekroonde eenmanstuk Die Reuk van Appels met Gideon Lombard kom eindelik Laeveld toe en beloof om ook hier vol sale te trek. Nêrens, Noord-Kaap met De Klerk Oelofse, Geon Nel en Albert Pretorius het eweneens verskeie toekennings ingepalm.

Sandra Prinsloo en Franci Swanepoel in Soebatsfontein.

Musiekteater
Eugène Marais se gedigte en verhale is in klank en beeld in die herlewing van die 1996-lokettreffer Uit Die Bloute, wat ook by Innibos debuteer. Lizanne Barnard het die musikale verwerkings gedoen, bygestaan deur onder andere Leon Ecroignard. Die regie is deur Henriëtte Gryffenberg. In Drie van die Bestes – Twintig Jaar Later is dit Kevin Leo, Mathys Roets en Danie Niehaus wat bestek neem van twee dekades se saam musiek maak; Laurika Rauch en Loki Rothman span hul talente saam in Blou en Rocco de Villiers is voor die klawers in nog ‘n debuutmusiekproduksie Wees Net Jouself. Klassieke Kamers is vanjaar weer onder die leiding van radiopersoonlikheid Christelle Webb Joubert.

Jenna Dunster in Uit die Bloute.

Dis hoe dit (ruk en) rol by Innibos se musiekkonserte
Elke feesdag om 18:00 kry duisende Innibossers hul sit en staan voor die Standard Bank-hoofverhoog vir ‘n musiekkonsert uit die boonste rakke. Dié konserte is produksies in eie reg en spog met groot name soos Juanita du Plessis, Riana Nel, Karen Zoid, Lianie May, The Parlotones, Theuns Jordaan en Ghoema-wenner Jo Black, om maar net ‘n paar te noem.

The Parlotones.

Lekker leefstyl
Die Verrassingsete met sjef Marli Visser en “konsertmeester” Kevin Leo is ‘n splinternuwe aanbieding wat al die sintuie sal uitdaag – dit gaan alles oor kos, maar nie slegs oor eet nie! Die ClemenGold Gin-proe sowel as die ClemenGold-boerderytoer word vanjaar vir die tweede keer aangebied, en vir moutliefhebbers is daar die aweregse whisky-sprokie Skoonlief en die Ondier. In Stroomop Inspirasie sal onder andere die gewilde aktrise Donalee Roberts meer vertel hoe mens kop bo water hou wanneer die lewenswaters rof raak.

ClemenGold Ginproe.

ATKV Boeke-oase
Die ATKV Boeke-oase bars vanjaar uit sy nate by Nelspruit Hoërskool se kultuursentrum. Kom koop die nuutste boeke by die ATKV-boekwinkel, skink ‘n glasie wyn, leer meer van die verskillende ClemenGold-kultivars, kom kyk hoe saai RSG daagliks Monitor en Spektrum uit, kuier in die talentvolle Laeveldse Bosch-pottebakkersfamilie se winkel, en neem deel aan die Netwerk24-gesprekreeks onder leiding van Ivor Price. Buiten die daaglikse boekgesprekke om 10:00 is daar ook ‘n Storievuur met storievertellers en geskiedkundiges Fransjohan en Louis Changuion oor waar in die Laeveld daardie Kruger-miljoene is.

Louis Changuion.

Toegangskaartjies
Voorskoolse en laerskoolkinders se toegang tot die feesterrein is gratis. ‘n Weekkaartjie kos R500 en pensionarisse betaal Woensdag 27 Junie slegs R50.  Andersins is kaartjiepryse vir Woensdag 27 Junie R120 (R80 bykomend vir goue sirkel), op Donderdag 28 Junie is dit ook R120 (geen goue sirkel nie), Vrydag 29 Junie kos ‘n kaartjie R175 (R120 vir die goue sirkel) en op Saterdag 30 Junie is dit R200 (R250 ekstra vir ‘n sitplek in die goue sirkel). Die volledige feesprogram is op www.innibos.co.za.

My man se skelmpie se skelmpie se vrou.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button