EntertainmentLifestyle

Danser maak geskiedenis by universiteitskompetisie

DM de Kock het vanjaar geskiedenis gemaak by 'n talentkompetisie by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstoomkampus.

KOMATIPOORT – In ‘n dansloopbaan van net bietjie meer as vier jaar, het DM de Kock die geleentheid gehad om vanjaar geskiedenis by Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstoomkampus te maak. Hy het vanjaar vir die eerste keer as ‘n solokunstenaar aan die Pukki Talentfees deelgeneem en het dit reggekry om die heel eerste danser in die talentfees se 35 jaar te wees wat as algehele wenner gekroon is.

“In 35 jaar was daar nog nooit ‘n danser wat as algehele wenner gekroon is nie, so om die ongelooflike eer te hê om geskiedenis te maak, is vir my ‘n groot voorreg,” vertel ‘n baie nederige De Kock.
De Kock is deur en deur ‘n Laevelder. Hy is in Mbombela gebore en het al in Barberton en op ‘n plaas tussen Malalane en Hectorspruit gewoon. Tans woon hy en sy ouers in Komatipoort. Hy het sy hele skoolloopbaan by Komatipoort Akademie voltooi. De Kock het as eerstejaarstudent in onderwys vir die eerste keer sy buiging as danser vir sy koshuis gemaak.

READ ALSO: Altyd ruimte vir kinders in die kunste kollig

“Tydens die eerstejaarkonsert het ek ‘n dansoudisie vir my koshuis afgelê en het daar werklik my passie ontdek. Na ons die eerste plek in die danskategorie verwerf het, het die koshuis my gevra om hulle Partyfest-danse af te rig. Dis hier waar ek begin choreografeer het,” vertel hy en voeg by dat dit sy ware passie is om af te rig, aangesien dit sy liefde vir dans en vir onderwys kombineer. Alles was egter nie net maanskyn en rose vir hierdie bekroonde danser nie.

“Uitdagings is om elke hoek en draai en vir lank het ek geglo dat dit te laat is om my drome as danser na te jaag. In my tweede jaar, net toe ek baie ernstig begin dans het, het ek my voet gebreek en dit het byna my moed gebreek. ‘n Mens raak maklik afgeskrik deur die lewe, maar ek het besef dis nooit te laat om jou talente uit te leef nie.”

Processed with VSCO with e1 preset

Hy droom om eendag in musiekblyspele regoor die land en die wêreld op te tree, en gaan aan die einde van die jaar ‘n oudisie vir sy eerste groot musiekblyspel doen. Hy het ook verlede jaar aan die universiteit se musiekblyspel Fame deelgeneem.

“As ek op die verhoog my storie kan vertel en weet ek het aan mense se harte geraak, maak dit my hart besonders gelukkig.”

LEES OOK: Innibos skop groot af – dis hoe ons rol!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button