Wêreldkoorspele wink vir Laudate
Hierdie plaaslike koor gaan op 5 Julie aan die Wêreldkoorspele in Pretoria deelneem.

MBOMBELA – Met liedere in inheemse tale en ure se afronding is die Laudate-koor reg om die pad na die Wêreldkoorspele aan te durf.

Dié spele, wat aangebied word deur Interkultur, vind vanjaar van 4 tot 14 Julie in Pretoria plaas. Die Laudate-koor neem in die oop afdeling deel wat meer op amateurkore gerig is. Die kompetisie word in twee weke verdeel en Laudate tree in die eerste week op. Hulle sal ook in die openingseremonie op 4 Julie in die Sun Arena betrokke wees.

“Ons is so opgewonde,” vertel koorleier Thea Möller. “Ons praat nie oor wen nie, ons praat net oor wat ‘n voorreg dit was om selfs vir die kompetisie te kwalifiseer en te mag deelneem.”

Die koor moes verlede jaar hulle volledige repertoire met ‘n video, foto en CV instuur om te kan kwalifiseer. “In Desember het ek die brief ontvang wat sê ons mag deelneem, en ons was buite onsself van opgewondenheid,” sê Möller.Dries Kunneke wat op 78 die oudste lid in die koor is, sê dat hierdie kompetisie die hoogtepunt van sy koorloopbaan is.

“Ons het op skool operette gedoen en toe ek begin werk, het ek by die kerk- en streekskore aangesluit. Hierdie is die kersie op die koek vir my.”

Kunneke vertel sy gunsteling-lied in die koor se repertoire is “Aan U Kom ‘n Lofsang toe” van Chris Lamprecht “want die lofprysing is vir my mooi en dis ‘n goeie kontras met die ander ligte liedjie wat ons sing”. Die koor vertrek volgende week en neem op 5 Julie deel. Die prysuitdeling vir die eerste week vind op 8 Julie plaas en Laudate is reg om die goud huis toe te bring.
LEES OOK: Laudate Choir to take on the world at World Choral Games
