Sonja Herholdt inspireer vroue
Na afloop van die vertoning het almal tee en koffie geniet en nabetragting gehou oor wat hulle die oggend geleer het.

MBOMBELA – Die lewe is ‘n reeks probleme wat ons moet leer om te beheer. Dit kan net gedoen word deur geestelike groei en om jouself te vind.
Dit was die boodskap van Sonja Herholdt toe sy Saterdagoggend haar vertoning, Dagboek van ‘n Pêrelvrou, by Hoërskool Bergvlam opgevoer het. Hier het Melinda van den Berg ook opgetree en haar woorde met die gehoor gedeel.

Die vertoning was die inisiatief van die VLU se Flamboyanttak. “Die fondse wat hier ingesamel word, gaan ons vir benodigdhede gebruik vir die program waarmee ons tans by Hoërskool Bergvlam besig is,” sê voorsitter, Retha Janse van Rensburg.
LEES OOK: Palissander koor bekoor die gehoor

Sy verduidelik dat hulle die dogters in die skool leer om, onder andere, te brei, hekel en naaldwerk te doen. Gedurende die vertoning het Herholdt haar reis van vrouwees met die gehoor gedeel. Sy het gepraat oor haar egskeiding, haar stryd as ma van gestremde kinders en ook hoe sy geleer het om haarself eerste te stel.
“Jy as vrou is die spil waarom die wêreld draai. Jy is die gom van jou gesin en jy het ‘n gawe gekry om na almal om te sien. Vroue maak egter nie tyd vir hulself nie en as hulle doen, dan voel hulle skuldig daaroor. Dit is belangrik om te onthou dat selfsorg nie selfsugtig is nie,”
het Herholdt vir die gehoor gesê.

Sy het ook liedere van onder meer haar album Reconstructing Alice gesing en die gehoor aan’t saamsing gehad met liedere soos “I Will Survive” en “Que Sera Sera”.
LEES OOK: VIEW GALLERY: Lowveld Kishugu Absa Air show
Verder het sy bygevoeg dat sy bevoorreg was om pêrelvroue van regoor die land te kon ontmoet en het plaaslike inwoner, Marietjie Terblanche, uitgesonder. Terblanche se stryd teen emfiseem het amper haar lewe geëis, maar sy het teen die siekte baklei en met haar suurstofmasjien by Herholdt op die verhoog aangesluit.

