KYK: Prag en praal by vanjaar se NHS klassieke aand
'n Klassieke keurspel was op die spyskaart by die musikale geleentheid wat Donderdag by Hoërskool Nelspruit plaasgevind het.
MBOMBELA – Die aand het op ‘n hoë noot afgeskop met twee items van die Lowveld Community Orchestra en ‘n harp-ensemble. Laasgenoemde het met hul drie harpe die gehoor vermaak deur deurgaans die melodielyn van een harp na die ander oor te gee.

NHS se Bel Canto (meisies) het reggestaan vir hul eerste optrede van die aand en die gehoor aan hul lippe laat hang met “Arise My Soul”. Bel Canto (gemeng) het later ook vermaak met “Drie Nagliedjies” en “Jesus is my Lord”.

Daarna was Mia Schmidt op klavier aan die beurt met Beethoven se “Moonlight Sonata” en is sy opgevolg deur Rozelle Sunkel met “Etude de Concert” wat sy op die harp gespeel het.
Die bekende violis Janette Rocher het die verhoog betree en saam met Tobias Kruger ‘n wonderlike vertolking van “Liebeslied” gelewer. Later in die aand het sy haar veelsydigheid gewys en ook agter die klavier ingeskuif.

Alayna Kuzel se vertolking van “Rhapsody on a theme of Paganini” en Jaco Malan se “Donata in G” het die gehoor in vervoering gehad. Dit was egter Ilané Smith wat die gehoor verbaas het toe sy die hoë note van “Ave Maria” perfek tref. Paul-Hendri van der Merwe het gewys dat die skool se orrel nie hoef terug te staan vir enige instrument nie.

Die gewilde plaaslike tenoor Walter Fourie het die eerste helfte afgesluit met “La Tabernera del Puerto” en het later die aand weer die saal met sy stem gevul, met die lied “Corner of the Sky”.
LEES OOK: NHS take visitors to the cleaners
Die orkes het die tweede helfte ook geopen en hul trompetspeler het beslis uitgestaan. Daarna was Strelza van Aardt op die klavier aan die beurt. Sy is opgevolg deur Karla Britz wat haar eie komposisie op die harp gespeel het. Britz het dit spesiaal vir haar Londense Trinity College-eksamen gekomponeer.

Anika van Zyl se suiwer stem het geskitter en Esmé Nel het ook haar vaardigheid agter die klavier gewys. Sumi Naude het ‘n keurspel op die harp gespeel en Mariska Taljaard se diep stem het uitgestaan. Die aand se enigste klassieke danser, Dané Burger, het op “Skyfall” haar staal gewys.
LEES OOK: KYK: NHS in groen vir Duane
Bel Canto (meisies) het die aand afgesluit met die opgeruimde, tradisionele lied “Kuimba!”.
