Neels kán slange vang!
Virtuele opleiding vir internasionale kliënte is nou alledaags vir Neels Bothma sedert die begin van die Covid-19-pandemie.
Hy kan deesdae skaars voorbly met virtuele klasse vir slangbyt- en slanghanteringsopleiding. Verlede week het hy vir 90 kursusgangers van die Midde-Ooste en Afrika opleiding gegee en vroeër vanjaar vir ‘n groep Nederlanders. ‘n Klomp sissende slange is dalk nie almal se idee van ideale huisgaste nie. Maar Bothma het jare gelede reeds sy hart en huis oopgemaak vir die reptiele waarvoor hy soveel liefde en respek het. Neels, ‘n geswore oujongkêrel, gee vir Melany Jordaan (wat almal as Meisiekind ken) reeds vyf jaar slang- en eerstehulpopleiding om eendag sy werk oor te neem. Hy het onlangs 15 volledige stelle slangvanggereedskap vir ‘n myn voltooi. Hy kan nie voorbly met die bestellings en opleiding by myne nie, waarvoor hy baie dankbaar is. Die proses is fassinerend. Epoksiemengsels word in ‘n vorm gegiet en die produk word afgewerk om ‘n slangvangstok te vervaardig. “Dit is ‘n plaaslike produk en is die helfte van die ingevoerde modelle se gewig en baie meer koste-effektief. My tange is trots Suid-Afrikaans en word al 35 jaar aan myne en privaathanteerders voorsien,” het Bothma verduidelik.
Lees ook: Monstergate
Bothma het legendariese bekendheid verwerf met die 16-jarige, 3,5 m- swartmamba Swartbek, wat slegs hy kaalhand kon hanteer. Steeds wil baie hom nie glo nie, maar hierdie verslaggewer was eerstehands ‘n getuie daarvan op verskeie geleenthede. Swartbek was die eerste van 13 eiers wat hy self laat uitbroei het nadat die ma net buite Mbombela doodgery is. Die ander slange is vrygelaat; Swartbek het gebly. Boonop is Swartbek een van die min slange wat in aanhouding gevrek het en waarvoor ‘n doodsertifikaat uitgereik is. Sy is na haar dood deur taksidermie verewig en het bygedra tot waardevolle navorsing oor die gedrag van swartmambas.
Dis merkwaardig om te sien dat die pofadder wat reeds jare by hom is, sy lyf opblaas en ‘n verdedigende posisie inneem as hy in die hok bedreig voel. Bothma weet alle slange is nie so mak soos Swartbek nie en neem nie onnodige risiko’s nie. Selfs die jong swartmamba en groenmamba (reeds 19 jaar by Bothma) verwelkom nie besoekers nie. Die ander slange by hom sluit ‘n tweede swartmamba, ‘n spoegkobra, ‘n wipneuskobra, ‘n rinkhals en ‘n bruinhuisslang in. “Ek gebruik die onskadelike bruinhuisslang sodat kinders gewoond moet raak aan slange. Ek lê klem op die R’e vir opleiding, naamlik respect, rehab en release. Baie slange en ander reptiele word van persele verwyder en in hul natuurlike habitat vrygelaat,” het Bothma gesê. Met die winter op hande moet mens lig trap en versigtig loop, want die slange soek reeds skuiling en gaan een van die dae nader aan huise gevind word. Vir Bothma is dit belangrik dat mense slange ken en bewaar, want hulle verrig ‘n baie nuttige funksie deur rot- en muisplae te beheer. Skakel Bothma by 082-730-3047 of Jordaan by 084-784-6961 om enige reptiel te laat verwyder.
Also read: Vulture given second lease on life









