Welbekende boer skryf nou lekker leesstof vir die kleingoed

Om hierdie boer in murg en been se naam te verbind aan "kinderboekskrywer", sal vir baie vreemd klink.

Egbert Hiemstra sr. is immers bekend vir sy loopbaan in die politiek, as bevelvoerder in die Suid-Afrikaanse Grensoorlog, leier in die landboukringe, boer en eiendomsontwikkellaar. In Lydenburg het dié inwoner legendestatus en min mense weet nie wie hy is nie. Maar sy sagte en kreatiewe kant is duidelik skynbaar met die eerste uitgawe van sy kinderboekreeks wat reeds soos soetkoek verkoop. Vir sy kleinkinders het hy altyd op die plaas Rietfontein, Watervalsriviervallei, die mooiste stories vertel. Dit was die perfekte manier om die kleingoed onder die dames te voete uit te kry terwyl hulle kosmaak. Die kleingoed het om die hardekoolvuur gesit en luister en gewonder oor elke karakter wat hy met soveel besonderhede en persoonlikheid oorgedra het. Die eerste boek is Die bosveldresies. Daarin daag die twee skilpadjies, Poena en Polla, die twee bobbejane, Apools en Karools, tot ‘n resies uit. Die twee stoute bobbejane het die ander dieremaats gespot oor hulle kort bene. Al die diere van die wildsplaas het na die resies kom kyk. Die slim jakkals en ystervark help vir Poena en Polla in hierdie belangrike bosveldresies. En die kleingoed sit vasgenael om te ontdek wie die resies wen. Die bekende Laeveld-kunstenaar. Wouter de Witt, ook bekend as Ghost, het die illustrasies gedoen. Hy is ook die kunstenaar wat elke jaar vir Ou Joe op die Schoemanskloofpad opnuut beklee. “Lees is so belangrik vir kinders. Ek wou graag ‘n storie skryf waar die kinders hulle saam met hul ouers kon inleef in die bosveldkarakters. Party kinders kan nog nie lees nie en het storietyd of voorlesing dus nodig. My kleinkinders het hierdie stories baie geniet en ek hoop dat dit nog baie kinders lief sal maak vir lees,” het hy gesê.

Die skrywer saam met twee jong lesers by PNA.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button