Vir nuwe hoof is onderwys ’n roeping
Michael van der Merwe (33) het vandeesmaand die stuur by Hoërskool Lydenburg as hoof oorgeneem. "Ek is hier om 'n verskil in die lewe van leerders te maak. As 'n gelowige mens glo ek die Here het my geskenke gegee om dié roeping te beantwoord," meen Van der Merwe.
As boorling van Bethlehem het hy reeds van kindsbeen geweet onderwys is in sy bloed. Hy het sy BSc sielkunde en fisiologie aan die Noordwes Universiteit op Potchefstroom voltooi en die NGOS-sertifikaat (senior en verdere onderwys en opleiding) nagraads.
Hy en sy vrou Anine, ook ‘n onderwyser en sy steunpilaar, het as studente ontmoet. Buiten hul besige skedules as pasgetroudes en om ‘n gesin groot te maak, het Van der Merwe ook sy meestersgraad in onderwysbestuur by Unisa voltooi.

Hy het sy loopbaan by Cornwall Hill College, Centurion, begin, waarna hy by Retief Gekombineerde Skool, Kestell, adjunkhoof was. Dit was vir hulle as gesin ‘n groot gebedsaak om sak en pak met hul kroos van vyf na Lydenburg te verhuis. Die kinders is Ernst (11), Bea (nege), Jonatan (agt), Tahlilah (ses) en CM (twee). Dié nuwe skoolhoof se missie is om ‘n verskil in kinders se lewens te maak. “Ek wil bydra om individue se selfvertroue te ontwikkel, wat positiewe bydraes kan maak deur deelname. Leerders moet hul talente en vaardighede ontdek en dit in hul skool en gemeenskap terugploeg. Ek glo nie alle presterende leerders is gelukkig nie, maar alle gelukkige leerders presteer. Daar moet ‘n balans wees tussen akademie en ontspanning. Uit groei en ontwikkeling in onderwys kan mens die perfekte pakkie kweek,” het hy voorts gesê.
Die gesin sien uit daarna om te gaan kamp en hul liefde vir die buitelewe verder in die mooi Laeveld uit te leef. As die jong gesin nie in die natuur is nie, sal jy Van der Merwe op die gholfbaan vind, iets waarvoor hy deesdae te min tyd het. Te oordeel aan die erewag en verwelkoming deur Van der Merwe se nuwe kollegas, leerders en die skool se beheerliggaam verlede week, is hulle net so opgewonde vir die nuwe era na Hoërskool Lydenburg se 100-jaar bestaan.
