GEBORG | Wat sê die wet oor swak werkprestasie?
Maak seker jy ken jou regte in die werksplek om regverdig behandel te word.

“My werkgewer beskuldig my daarvan dat my werk nie op standaard is nie – kan ek afgedank word?” Dit is ’n algemene bekommernis onder werknemers in werkplekke regoor Suid-Afrika.
Die antwoord is egter eenvoudig: Nee.
Volgens die Wet op Arbeidsverhoudinge (No. 66 van 1995) moet swak werkprestasie deur ’n billike proses aangespreek word om te verseker dat werknemers regverdig behandel word. Swak werkprestasie moet as ’n geleentheid vir verbetering beskou word eerder as ’n maklike rede om iemand te ontslaan.
DIE PROSES VERLOOP GEWOONLIK SOOS VOLG:
1. Identifiseer die probleem duidelik: Indien ’n werknemer se prestasie nie aan die vereiste standaarde voldoen nie, is die werkgewer verplig om dit formeel en objektief aan die werknemer te kommunikeer. Spesifieke voorbeelde moet ingesluit word sodat die werknemer deeglik kan verstaan watter gedrag of uitkomste verander moet word.
2. Bied ondersteuning: Elke werknemer het die reg om voldoende leiding en hulp van hulle werkgewer te ontvang. Dit kan opleiding, mentorskap of gereelde terugvoer insluit. Die doel hiervan is om die werknemer in staat te stel om hul prestasie te verbeter.
3. Stel ’n billike tydlyn vir verbetering vas: ’n Billike en haalbare tydperk moet vasgestel word waartydens daar van die werknemer verwag word om beter werkprestasie te toon. Hierdie tydlyn en die verwagte uitkomste moet vooraf duidelik aan die werknemer gekommunikeer word.
4. Gereelde evaluasies: Gedurende die verbeteringstydperk moet daar gereelde vergaderings plaasvind om vordering te bespreek. Hierdie opvolgsessies en aantekeninge dien as bewys dat die proses regverdig en deursigtig verloop het.
5. Finale evaluasie: Indien die werknemer se prestasie steeds nie op standaard is nie, mag die werkgewer ’n formele verhoor belê. Die werknemer het die reg om hulle saak te stel en redes vir hul (onder)prestasie aan te voer voordat enige verdere stappe geneem word.
6. Reg op ’n billike verhoor: Elke werknemer het die reg op ’n billike en onpartydige verhoor, wat die reg insluit om deur ’n verteenwoordiger of vakbond ondersteun te word om prosedurele billikheid en wetlike nakoming te verseker.
7. Verbetering eerder as straf: Swak werkprestasie word anders as wangedrag aangespreek. Hier gaan dit oor die ontwikkeling en groei van die werknemer – nie oor straf nie. Deur opleiding, terugvoer en ondersteuning kan beide die werknemer se vaardighede én die werkgewer-werknemer-verhouding versterk word. Wanneer hierdie proses reg verloop, word beide partye beskerm: die werknemer kry ’n regverdige kans om te verbeter terwyl die werkgewer die risiko van regstappe verminder.
Dit bevorder ’n gesonder en meer produktiewe werksomgewing. Solidariteit staan gereed om te verseker dat elke werknemer regverdig behandel word.
As jy onseker is oor hierdie proses of hoe om sulke situasies te benader, kontak gerus Solidariteit se Nelspruit-kantoor vir hulp en advies!
*Ons kan slegs lede met ’n Solidariteit-lidmaatskap van drie maande of langer verteenwoordig.
Danny Schutte Solidariteit Netwerkorganiseerder: Nelspruit 013 235 3698 / 013 235 1814 nelspruit@solidariteit.co.za / danny@solidariteit.co.za
Tiaan Schoeman Solidariteit Netwerkorganiseerder: Nelspruit 082 497 1749 / 013 235 3698 nelspruit@solidariteit.co.za / tiaan@solidariteit.co.za.
LEES OOK: GEBORG | Beserings aan diens: Solidariteit staan jou by!
LEES OOK: GEBORG | Solidariteit se Mpumalanga-kantoor staan gereed om hulp aan te bied
