News

‘n Week…en Willem is steeds weg

Dit is presies 'n week sedert Willem Kruger (29) vanaf die Henbase Lodge tussen Morgenzon en Amersfoort verdwyn het.

Mnr. Sakkie Louwrens (Bosveld Misdaad Ondersoeke) het pas bevestig dat daar “nog niks verdere nuwe nuus is nie.”

Willem het verlede naweek saam met vriende ‘n rampartytjie by die lodge bygewoon.

Hy sou Saterdagaand oorslaap en is daar geen logiese verduideliking waarom hy sou besluit het om te ry nie.

Sedert Sondag is daar onverpoos in die Vaalrivier, wat langs die lodge verbyloop, deur van polisieduikers, tot spanne in helikopters, bote, en met die hulp van hommeltuie na Willem gesoek.

Veiligheidskameras op die roete vanaf die lodge tot buite Groblersdal, waar sy pa se plaas is, is nagegaan, maar sy Toyota Hilux Dakar bakkie is nie by een van die veiligheidskameras verby nie.

Willem se bakkie waarna daar ook gesoek word.

Daar is gemeld dat CCTV kameras van die lodge ook aandui dat hy by die lodge in is, maar nooit weer uitgery het nie.

Dit laat almal tot nou toe vermoed dat hy met sy bakkie moontlik die nag oor die bedrieglike laagwaterbruggie gery en dalk in die rivier beland het.

Buiten ‘n fles en ‘n plakkie, wat ook noodwendig nie syne is nie, is daar egter geen ander aanduidings in die rivier gekry dat hy of die bakkie wel in die rivier is nie.

Alle ander moontlikhede word egter ook ondersoek.

Sy familie het kort na sy verdwyning eers ‘n R50 000 beloning aangebied, wat binne ‘n dag verhoog is na R200 000, vir inligting wat sou lei daartoe dat hy gevind word.

Tog op hede het die ondersoekers al letterlik honderde oproepe hanteer, maar alhoewel alles nagespoor en opgevolg is, het niks nog konkrete bewyse gelewer nie.

Daar is verneem dat almal wat kontak gehad het met Willem by die partytjie ook ondervra is, maar hieruit is net wys geword dat hy, soos hulle, die nag sou oorslaap.

Hy het net die nag kort na 01:00 twee keer na sy vriend se foon toe gebel, maar die klank was afgesit en het hy nie die oproepe gesien nie. Die volgende oggend het hulle gesien hy is weg.

Vrydag is daar ‘n spesiale gebedsaand deur twee vroue gereël op Willem se pa se plaas, TKB (Tian Kruger Boerdery) en het sowat 200 mense die geleentheid bygewoon en by kerslig gebid vir Willem en sy familie.

Die aand se verrigtinge kon direk gevolg word vanaf die “Ons Soek Willem Kruger” Facebookblad.

Willem se verhaal het nie net die hele Suid-Afrika aangegryp nie, maar ook die hele wêreld en word daar van sover as Amerika af boodskappe van bemoediging en gebede aangestuur.

Daar word weereens gevra dat indien daar enige nuwe inligting is wat die ondersoekers kan opvolg, om mnr. Louwrens te bel by 071 798 7954 of Phil Vermeulen (Mike Bolhuis ondersoekgroep) by 082 604 4598.

 
Back to top button