Dogtertjie se fiets ’n tweede keer gesteel
“Dis een ding om van ’n volwassene te vat, maar nou steel hulle nog by ons kinders ook,” het die omgekrapte pa gesê.
’n Jong gesinnetjie van Kanonkop is vir die tweede keer in vyf maande die slagoffers van misdaad nadat boosdoeners waarskynlik met ’n voertuig hulle leeggedra het.
Gert De Beer hoop dat inwoners van Granaatstraat se omgewing dalk kan help met leidrade om die diewe wat meer as R50 000 se goed gesteel het, op te spoor.
Die gesin van vier glo dat hulle tussen 21:00 gisteraand en 04:00 vanoggend van hulle waardevolle besittings beroof is.
Gert vertel dat hy tot en met gisteraand 20:30 klas gegee het en daarna in die bed geklim het. Die gesin moes onlangs by ’n woonstel intrek, en ongelukkig staan van hulle waardevolle toestelle, soos die kragopwekker en kisvrieskas buite.
“Ek het net laas jaar die kragopwekker en kisvrieskas aangekoop, en die twee se waarde is ongeveer R50 000.”
Die deiwe het oor die muur gespring, die hek van die spoor afgehaal en alles wat buite onder die afdak staan weggedra. Dit het die 6.5 kw diesel kragopwekker, 500 liter kisvrieskas, twee groen 20 kg gassilinders en hulle twee dogtertjies se fietse ingesluit.

“Hulle moes met ’n voertuig die goed weggery het omdat die kragopwekker en vrieskas beslis te groot is om te dra. Ek self moes dit met ’n bakkie aanry.”
Wat die gesin die meeste ontstel is dat hulle agt-jarige dogtertjie se fiets vir die tweede keer hierdie jaar gesteel is.
“Haar fiets is in April hierdie jaar weggedra, en ’n weldoener het ’n nuwe een vir haar geskenk. Nou is die nuwe fiets so waar as waaragtig weer gesteel!”
Lees ook:
Gert vertel dat hulle ook minstens 30 kg se vleis kwyt is, wat in die vrieskas gestoor was.
“Wat my verstand tebowe gaan is dat ons nie wakker geword het nie, want ek en my vrou slaap baie lig.”
Gert vertel dat die diewe ook gepoog het om by die huis in te kom, nadat hulle die sleutels deur die venster probeer hak het.

“Toe ek vanoggend buite gegaan het, het ek gesien dat hulle twee besems aan mekaar geheg het, en ’n hak met draad geprakseer het, om die sleutels uit die huis te kry.”
Gert hoop dat iemand in die omgewing met CCTV kameras dalk die beeld na kan gaan sodat hulle die boosdoeners kan opspoor.
“Al kry ons net die voertuig se regestrasie nommer.”
Indien iemand kan help met moontlike leidrade, kan hulle vir Gert de Beer kontak by 079 995 6623.
• Kragopwekkers is onlangs hoog op die aanvraaglys van diewe, en daar was voorheen berig oor ’n silwer bussie en ’n wit Nissan NP200 wat as wegkommotors gebruik word.
’n Wit Quantambussie is ook al menige kere gebruik om gesteelde motorfietse weg te ry.
Lees ook:
KYK: Quantum bussie se insittendes steel fiets, motorfietse, vroegoggend
