Wilde diere en ‘dinge’ wat in Middelburg groet
Die afgelope paar jaar het Middelburgers met ’n verrassende reeks wilde besoekers kennis gemaak.
Terwyl Middelburgers saans hul deure sluit, begin van die dorp se mees geheimsinnige inwoners rondsluip.
Van ’n waterbok wat tussen fabrieke rondgedwaal het tot ’n muskeljaatkat wat inwoners se pluimvee al maande lank jag, wys die afgelope twee jaar dat die natuur nooit werklik ver van Middelburg se strate is nie.

Die jongste wilde besoeker is ’n muskeljaatkat wat inwoners van Hoopstraat in die middedorp al byna ’n jaar lank laat kopkrap.
Hoenders, kuikens, eendjies en ander pluimvee het gereeld oornag verdwyn, totdat ’n sekuriteitskamera die geheimsinnige nagjagter uiteindelik vasgevang het.

Volgens inwoner Alex Gutt is die skugter wildekat vermoedelik verantwoordelik vir dosyne kuikens, hoenders, eende en ander voëls wat die afgelope jaar verdwyn het.
“Ons is raadop. Die klein skarminkel jag elke nag en eet hom lekker dik aan ons arme kuikentjies,” sê Gutt.
Ten spyte van die skade wat die dier aanrig, wil inwoners hom nie leed aandoen nie. “Ons wil hom eerder veilig vang en na ’n geskikte gebied hervestig waar hy nuwe avonture kan beleef,” sê Gutt.
Die muskeljaatkat se verskyning volg kort ná die waterbok opslae gemaak het toe hy in Middelburg se nywerheidsgebied rondgedwaal het. Die verdwaalde dier het voor ’n voertuig ingehardloop, met Kersliggies wat om sy nek en horings vasgehaak was.
Die waterbok is later veilig gevang en na ’n wildsplaas in die Loskopvallei verskuif, waar hy volgens betrokkenes nou rustig tussen ander wild leef.
Die muskeljaatkat en waterbok is egter maar twee van die wilde diere wat inwoners die afgelope paar jaar besoek het.
Daar was ook ’n kaalwangvalk wat in Gholfsig gevind is, asook ’n valk wat ná ’n beweerde windbuksvoorval in Groenkol neergestort het.


Koedoes is al deur Kanonkop, op die N11 en in die Kranspoortpas gewaar, terwyl ’n bobbejaanbaba gered is. Selfs ’n vermeende krokodil het inwoners op hol gehad – net om later glo ’n groot likkewaan te wees.



Hoewel hierdie ontmoetings inwoners soms verras en beslis uitdagings skep, vertel dit ook ’n besonderse verhaal oor Middelburg.



Die dorp, omring deur wildsplase, die Loskopvallei, rivierlope en oop veld, bly ’n plek waar die grens tussen mens en natuur verrassend dun is.
Dalk selfs weer seekoeie – soos die drie wat in 2022 deur die dorp se strate rondgedwaal het.



Die seekoeikalf het ongelukkig gevrek, maar die bul en koei is veilig na die Loskop-omgewing verskuif.
Dis ’n feit soos ’n koei, in MIddelburg weet jy nooit watter wilde besoeker om die volgende straathoek wag nie.