Video: Swartmamba laat almal bontstaan in parkeerarea
Daar is drie swartmambas in die laaste twee weke in die Loskopvallei gevang!
Kyk waar jy trap, want ’n dodelike swartmamba mag dalk net sy kop iewers uitsteek!
’n Swartmamba van 2.2m is verlede Vrydag in die Spar parkeerterrein gevang. Dit beteken dit is die vierde swartmamba wat in die laaste maand in die Loskopvallei gevang is!
Dié slang het glo in ’n voertuig geskuil en het kort voor middagete, omstreeks 12:20, besluit om uit te seil in die baie besige parkeerterrein.
Mnr. Ryno de Vos, ’n slangvanger, vertel dat hy naby Loskopdam woon, maar was toevallig in die dorp en het op die regte tyd en oomblik by die winkelsentrum se parkeerterrein stilgehou.
Hy het ’n groot groep mense sien saamdrom en ondersoek gaan instel, waarop hy besef het dat daar ’n slang is.
Mnr. De Vos vertel dat hy al vir 15 jaar slange vang, maar nie op daardie tydstip enige toerusting by hom gehad het nie. Hy moes ’n bakkiehaak gebruik om die swartmamba te vang. Omstanders het besluit om te help en het ’n verkeerskegel oor die slang se kop geplaas.
@die.daller
Hy het daarin geslaag om die swartmamba agter die kop op te tel en weg te vat.
Mnr. De Vos vertel dat hy die slang aan Gunmar oorhandig het, sodat die slang vrygelaat kan word, aangesien hy geen toerusting gehad het om die slang te vervoer vir vrylating nie.

Lees ook: Video: Dodelike swartmamba buite Marble Hall gevang
Lees ook: Video: Twee Swartmambas in een week gevang
