6 tipes mense wat jy by Aardklop gaan sien
Daar is elke jaar dieselfde tipe mense wat Aardklop besoek. Hier is net 6 van hulle...

1. Die besitlike PUK student
Aangesien PUK studente reeds in Potch is, is Aardklop soms vir hulle net ʼn jaarlikse gebeurtenis waar al die kuierplekke op die Bult ewe skielik ingangsfooie vra en daar nêrens parkering is nie. Dan stroom jongmense van oral ook die stad binne wat die ry agter die kroeg sommer baie langer maak! Die besitlike student maak seker almal weet hy studeer op die Puk en dat hy nie net ʼn toeris is nie. Kuierplekke is over-rated en Aardklop is net nog ʼn manier om ʼn inkomste in vakansietyd te verdien.

2. Die Potchefstromer
Hierdie is die mense wat nog altyd in Potch woon. Sodra Aardklop aanbreek wemel die Potchefstroom Facebook groep en Hello Pietie met opmerkings oor hoe hulle, wat in die Suiddorp woon nie kan slaap nie weens die harde musiek op die Aardklop gronde. Daar word ook gereeld gekla oor Pretorianers se padmaniere en oor hoe hierdie vreemde mense wat van ver kom ons dorp bemors. Tog gaan kyk hulle maar in elk geval vir Steve Hofmeyr.

3. Die Partytjiedier
Dit is die ou wat die hele land toer opsoek na ʼn biertent om by te sit en plastiese glase om bymekaar te maak. Sy arms is vol ingangsbandjies wat hy nooit afhaal nie en hy maak seker hy neem ʼn selfie by elke groot fees of partytjie wat hy bywoon. Hy gaan gewoonlik alleen maar maak nuwe vriende by elke fees. Die partytjiedier is daar vir die drank en die harde musiek.

4. Die Aardklop fanatikus
Daar is so paar van hulle daar buite. Iemand wat al van die eerste Aardklop af elke een bywoon. Hy het ʼn T-hemp wat lees: “niemand verstaan my nie, is ek miskien ʼn kunstenaar?”, en ʼn versameling Aardklop goedere wat jaar na jaar net groei. Hy gaan kyk nie noodwendig enige produksies nie, maar hy maak seker hy koop iets by elke stalletjie.

5. Die Gautenger
Van al die toeriste wat tydens Aardklop Potch toe kom, is die Gautenger in die meerderheid. Hulle woon naby genoeg en geniet die uitstappie na ʼn “klein dorpie” soos Potchefstroom. Hulle hou daarvan om die Bult oor te neem en gee nie om om R50 ingang te betaal nie – want in Pretoria betaal jy dit in elk geval. Hy begin ook amper elke gesprek met “in die stad waar ek vandaan kom…”

6. Die Kunsfundi
Hierdie is die ou wat Aardklop toe kom vir die hoofrede waarom dit bestaan – die kuns. Hy koop al maande vooruit kaartjies vir elke produksie en maak seker hy het VIP kaartjies vir die Kunssafari en Boekeoase. Hy lewer kritiek oor alles en staan permanent met ʼn glas wyn in die een hand en ʼn lang sigaret in die ander.




