Entertainment

Vrede van die Vrystaat

“Ek dink in Afrikaans, voel in Afrikaans, droom in Afrikaans. Afrikaanse musiek is net iets wat ek gevoel het ek moet doen,”

“Ek dink in Afrikaans, voel in Afrikaans, droom in Afrikaans. Afrikaanse musiek is net iets wat ek gevoel het ek moet doen,”
So beskryf die sanger Neil Nachtrein hoe hy begin het om musiek in Afrikaans te maak.
Na skool het hy in Engeland gaan werk en by plaaslike kroeë gespeel.
“Dit was maar ‘open mic’ aande gewees en niemand het my geken nie,” skerts hy.
Na sy terugkeer huistoe het hy vir 10 jaar in Fouriesburg in die Vrystaat as ’n blokman in die familie se slaghuis gewerk voordat hy voltydse musikant geword het.
“Dit is maar waar ek begin skryf het en waar die hele Nachtrein konsep gebore is. Ek het maar deeltyds in die aand musiek gemaak,” vertel die 35 jarige sanger.
Vrede is een van die woorde wat by mens opkom wanneer jy met Neil gesels. ‘n Persoon wat dink oor wat hy gaan sê. Soos sy musiek verg dit soms ’n bietjie dinkwerk om mens se kop om die metafore te kry. Alhoewel hy homself glad nie werklik as ’n digter ag nie.
“Selfs Bob Dylan wat die Nobelprys vir letterkunde gewen het, het gesê dat daar ’n groot verskil is tussen digkuns en lirieke. Ek het seker ’n digterlike aanslag tot my lirieke maar sal myself nie as ’n digter klassifiseer nie,” vertel hy beskeie.
Beskeie is nog ’n woord wat by mens opkom wanneer Neil op sy gematigde wyse met jou gesels.
“Baie min mense erken my in winkelsentrums,” lag hy.
Vra jy oor die lied, ‘Sweet Sune’ wat volgens dié skrywer een van sy mees populêre liede is, dan glimlag hy net breed en verduidelik dat hy nie besef het dat die lied populêr is nie.
Dit is dalk die jare se ervaring as blokman wat gehelp het om sy benadering tot sy eie musiek te skaaf.
Dit blyk dat hy sy musiek op dieselfde noukeurige manier benader as ’n bobaas blokman wat die beste vleisnitte sny.
Nachtrein doen niks op die ingewing van die oomblik nie. Behalwe sy eerste album, Gisters en Blisters se opname.
“Ek het op ’n stadium besef dat ek genoeg liedere het om ’n album te doen. Ek het ’n ‘demo’ uitgestuur wat ek by die huis opgeneem het, na ’n paar plekke. John Buckley, wat onderandere Jan Blohm se sewe jaar album gemaak het, het my gekontak en gesê hy sal belangstel om ’n ateljee beskikbaar te stel,” verduidelik hy.
Alhoewel hy voel dat die nuutste album ‘Op plekke waar ons eens was’ wat verlede jaar uitgereik is sy debuutalbum is.
“Met die vorige album het dit nie heeltmal soos my eie werk gevoel nie. Ek was nog nuut en het nie veel van die proses geweet nie. Dit het net nie 100% uitgekom soos ek in my kop dit veronderstel het nie. Die nuwe album het seker 95% uitgekom soos ek gedink het dit gaan,” vertel hy.
Neil het self die produksie kostes van die nuwe album gedra. Daarom is dit nie altyd lekker as mense by optredes vra dat hy ander musiek speel nie.
Hy lag net en verduidelik dat dit soms maar net deel van die bedryf is veral as mens by kleiner plekke speel.
Sy grootste lirieke invloed was Adam Duritz van Counting Crows
“Ek het van die begin af besluit dat ek nie as ’n ‘cover’ musikant wil bekend wees nie. Daar is plek vir sulke musikante ook maar ek wou van die begin die oorspronklike roete gaan. Jy is baie meer blootgestel wanneer jy jou eie musiek speel,” vertel hy.
Is die lirieke in sy liedere almal uit persoonlike ervaring? Dit is ’n vraag wat baie mense vra as hulle na sy musiek luister.
“Ek hou nie altyd daarvan om vir mense te sê waaroor gaan die liedjies nie omdat almal hulle eie unieke ervaring van ’n lied het. Ek dink nie enige kunstenaar kan net oor hulleself skryf nie. Jy dink jouself maar in ander se skoene in en observeer die wêreld om jou,” sê hy.
 Volgens hom is die kleiner plekke meer intiem. Daarom het hy ook begin huiskonserte doen.
“Ja, jy nooi jou vriende of vreemdelinge as jy wil en ek sit in jou sitkamer en maak musiek,” glimlag hy.
Dalk net die beste verjaarsdag geskenk wat jy vir ’n musiekliefhebber kan gee.
Neil Nachtrein is voorwaar ’n musikant se musikant. Hy glo dat sy reis as musikant nooit werklik sal ophou nie. Die Vrede van die Vrystaat het reeds diep spore in die Afrikaanse musiekbedryf begin trap en soos hulle in Engels sê, vir hom is “the sky the limit”
Neil Nachtrein se nuwe album is by al sy optredes te koop. Volg hom op Instagram @NeilNachtrein en op Facebook.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button