Uit Piet se Pen: Vrede op Aarde
Ek het tydens die Groot Vergiffenis so aan die suidekant van die dorp gebly, daar in die woonbuurt waar ons mekaar se honde se blaf geken het, omgegee het vir mekaar en mekaar se tuine natgegooi het.

Ons sit daar in ons gunsteling opskepplek en kyk na die reën wat uitsak.
Dis nou ek en ander Piet en Hennie. Reën het mos ‘n manier om ‘n mens weemoedig te stem en die gesprek raak ernstiger as gewoonlik, veral omdat dit al Desember is en Kersfees om die draai is.
Ons praat oor die Kersboodskap van Vrede op Aarde en begin so onder mekaar al ‘n paar mense vergewe, soos die ou wat ander Piet nog steeds ‘n klomp geld skuld en die ou wat Hennie se bakkie gestamp en weggejaag het, die opskepkommandant wat ons soms verneuk met kleingeld en ek vertel van hoe ek en Boesman vrede gemaak het, hoeka ook so net voor Kersfees.
Om die verhaal beter te verstaan moet ek bietjie agtergrond gee. Ek het tydens die Groot Vergiffenis so aan die suidekant van die dorp gebly, daar in die woonbuurt waar ons mekaar se honde se blaf geken het, omgegee het vir mekaar en mekaar se tuine natgegooi het.
My een buurman was ‘n handige kêrel: enjins, veral V8’s (dis nou daardie enjins wat elke Saterdag wee uit gehaal word), mouterbaaiks, panelbeating en so aan. Dis maar ‘n rumoerige spul maar die geduld hou en ek word Oupa gedoop en gereeld gegroet.Die naweek na die ou tannie “gepension” het, het dit eers rof gegaan, maar die geduld hou.
Tot een Vrydagaand laat toe die “geref” van die mouterbaaikenjin” alle hoor en sien laat vergaan en ek buite toe stap en hulle aanspreek. Die volgende oomblik storm Pa en seun op my af maar die hekke is gesluit en hulle maak net dreigemente. Toe ek later by die agterdeur gaan loer sien ek die gevaar amper te laat. Hulle het my ingewag en toe ek uitstap gooi hulle my met ‘n glas.
Die glas tref die wasgoedpaal, toe die muur en trek tot amper by die braaier. Uiteraard het ek my stem verhef en daar was onvrede. Die volgende oggend gaan tel ek die glas op. Die glas het niks oorgekom nie, so ‘n bloue. Ek het die glas op die ysterpaal neergesit.
Toe ek later die dag by ‘n kettingwinkel kom, sien ek die glase daar staan: ses in ‘n pak. Ek koop dit en terug by die huis stal ek hulle op die kombuisvenster uit sodat hulle kan sien ek is ook nou gewapen.So leef ons in onvrede tot een Saterdagmiddag, net ‘n paar dae voor Kersfees.Ek sit onder my braaiboom toe Boesman my roep. Ek stap nader en hy staan daar met twee glase, ‘n bottel cheap brandewyn en mieks onder die een arm vasgeknyp.
Toe ek naby genoeg is, haak hy sy arm om my nek, trek my nader oor die draadheining en soen my op my bles en sê: “Nee Oupa, ons moet vrede maak. Mens kan nie so met onvrede Krismis hou nie.” Daar maak ons toe vrede, elk met ‘n lekker dop (sonder ys) in vetterige glase.
Ander Piet sê: ” Ja, daar word julle kwaad oor ‘n blou glas maar die belangrikste is dat julle die Kerstyd in vrede ingegaan het, al was dit nou met vetterige glase” Ons drie besluit net daar dat ons almal “n geseënde en vreugdevolle Kerstyd, vol vrede sal toewens.



