Die 2026 Classic Clash netbalstryd tussen Volkies en Gimmies se eerste netbalspanne sal nog vir lank onthou word.
Na 60 minute van vurige en blitsige netbal vanaand (Vrydag, 22 Mei) moes albei skole op die ou einde tevrede wees met ‘n 30-30 gelykopuitslag.
Albei spanne kon die wen deurgetrek het, maar het daardie laaste aangee gemis of is deur puik verdediging gefnuik. ‘n Mens kan nie die spelers vir ‘n fout of twee blameer nie. In die laaste paar minute het die skare se volume so gestyg dat dit soos ‘n gedruis van opwinding geklink het.
Krete van “Gimmies” en “Volkies” en “draai die bal!” was volop in ‘n spanningsvolle einde waar die resultaat ‘n regverdige uitslag was.
Dit was netbal uit die boonste rakke met beide skole se kapteins, Anke Jacobs (Gimmies) en Haylene Blankenberg (Volkies) wat uitstekende wedstryde gehad het. ‘n Pluimpie moet ook gegee word vir Volkies se Milan Krauze en Nicki Tromp wat die doele onder druk ingepalm het. So ook Gimmies met Deane Enslin en Jacobs wat goed onder druk die doele ingesamel het.
Foto’s: Wouter Pienaar













