‘n Ongelooflike reis deur siekte, verlies en hoop
Wat begin het as onverklaarbare gewigsverlies tydens haar tweede jaar op universiteit in 2016, het vir Sonika ontwikkel in ‘n jarelange mediese en emosionele stryd.
Vir Sonika van Pletsen (30) was die lewe nog altyd verweef met unieke beginpunte en uitdagings. Sy is in Pretoria gebore en as baba aangeneem, waarna haar ouers haar op net drie dae oud kom haal het. Van daar het haar lewe in Potchefstroom begin, waar sy later BSc Verbruikerswetenskap met toerisme aan die Noordwes-Universiteit (NWU) studeer het.
Wat begin het as onverklaarbare gewigsverlies tydens haar tweede jaar op universiteit in 2016, het vir Sonika ontwikkel in ‘n jarelange mediese en emosionele stryd. Een wat haar liggaam en siel tot die uiterste beproef het, maar uiteindelik ook haar geloof en innerlike krag verdiep het.
“Ek het begin gewig verloor en elke keer sleg gevoel wanneer ek geëet het,” vertel Sonika. “Mense het na my gekyk en geoordeel. Party het selfs gedink ek het ‘n eetversteuring. Dit het my laat onttrek. Ek wou nie meer in die openbaar eet of wees nie.”
Deur alles was haar ma haar anker. Van dokter na dokter het hulle antwoorde gesoek, selfs alternatiewe behandelings probeer, maar sonder duidelike resultate.
“Iemand het selfs gesê dit is blote wilskrag wat my deur die dag dra, omdat my energie so laag was.”
Eers in 2019, toe sy na ‘n gasteroënteroloog in Pretoria verwys is, het dinge begin verander. ‘n Vernouing in haar dunderm is ontdek, die oorsaak van haar pyn en ongemak ná etes.
“Dit was soos manna uit die hemel,” sê sy. “Eindelik het iemand ‘n diagnose gehad.”
‘n Gastriese omleidingsoperasie het gevolg, maar die verligting was kortstondig. Binne dae ná haar ontslag uit die hospitaal het haar toestand drasties versleg. Sy het flou geword in die stort en is inderhaas terug hospitaal toe.
“Ek was onbewus van hoe ernstig dit was,” onthou sy. “Later het ek gehoor dat die dokter vir my ma gesê het hy het gedink hulle gaan my verloor.”
‘n Noodoperasie het gewys dat alles binne-in haar losgetrek het en in haar buik rondbeweeg het. Sy het ‘n week lank in ICU aan ‘n ventilator gelê. Haar albuminvlakke (‘n proteïen wat deur die lewer vervaardig word en die mees algemene proteïen in die bloedplasma) was so laag dat haar liggaam nie kon genees nie.
Vir vyf weke kon Sonika niks eet of drink nie.
“Ek het gelê en huil van honger,” sê Sonika. “Dit was my laagste oomblik, maar dit was ook waar die Here Homself aan my geopenbaar het en my siel gered het.”
Na sewe weke is sy ontslaan, 35kg ligter en met ‘n oop wond. Die herstelproses was lank en pynlik, maar sy het begin verbeter en geëet sonder pyn.
Nog ‘n uitdaging het egter gewag. Haar hare het begin uitval as gevolg van die trauma wat haar liggaam ervaar het.
“Ek was altyd bekend vir my dik, lang hare. Om dit te verloor was vir my verskriklik.”
Sy het uiteindelik ‘n pruik begin dra terwyl haar hargroei stadig herstel het.
Die jare daarna was nie sonder terugslae nie. In 2024 is sy weer gehospitaliseer. Hierdie keer met ‘n blaasinfeksie wat nie wou opklaar nie. Ná ‘n reeks pynlike toetse, insluitend ‘n beenmurgbiopsie, is Crohn se siekte uiteindelik gediagnoseer.
‘n Skandering het gewys dat ‘n fistel (’n abnormale deurgang tussen organe) tussen haar blaas en derm gevorm het. Sy is per ambulans na Johannesburg oorgeplaas waar ‘n operasie uitgevoer is wat haar met ‘n stoma gelaat het.
“Dit was ongelooflik emosioneel,” vertel Sonika. “Ek was baie selfbewus en het gevoel almal kan sien dat ek ‘n stoma het.” Tog het sy in hierdie tyd ook liefde gevind. “Hy het my aanvaar soos ek was, met stoma en al.”
Volgens haar gasteroënteroloog het die fistula waarskynlik oor baie jare ontwikkel.
In Julie 2025 is ‘n stoma-omkeeroperasie gedoen, maar komplikasies het vinnig gevolg. ‘n Blokkasie het veroorsaak dat alles weer losgaan, en ‘n vier-uur-lange noodoperasie was nodig.
“Waar dit die begin van ‘n nuwe normale lewe moes wees, was ons weer by stap een,” sê Sonika.
Die emosionele tol was enorm. Sy het traumaberading en psigiatriese behandeling ontvang om alles te verwerk. Tog het daar ook lig gekom toe die liefde van haar lewe haar gevra het om te trou.
Verlede maand het Sonika weer die kans gekry om die stoma te laat omkeer.
“Ek was opgewonde, maar ook verskriklik bang. Ek het gewonder wat hierdie keer verkeerd sou loop.”
Die operasie was groot en haar herstel moeilik, met weke van naarheid en pyn. Maar stadig begin sy weer beter voel.
“Na alles vat ek dit dag vir dag,” sê Sonika. “My ma was daar deur alles, die slapelose nagte en trane en my verloofde het my ook nooit alleen gelos nie.”
Ten spyte van die intense pad wat sy geloop het, bly haar geloof haar grootste bron van krag.
“Dit voel soms asof die Here nie daar is nie,” sê sy. “Maar Hy is altyd daar. Hy dra ons wanneer ons nie meer self kan loop nie. Hou aan glo.”



