Local newsNewsNews

Toename in studentebehuising laat vrae ontstaan

Die beginsel is eenvoudig: Is die regte ontwikkeling, op die regte plek, teen die regte intensiteit en volgens die regte proses.

’n Toenemende aantal hersoneringsaansoeke in Potchefstroom, veral dié wat met studentebehuising verband hou, het vrae by inwoners laat ontstaan of ’n bepaalde erf en gebied geskik is vir die voorgestelde gebruik.

Die JB Marks Munisipaliteit is tans besig om onwettige studenteverblyf hok te slaan. Die Lid van die Burgemeesterskomitee vir Behuisingsontwikkeling en Beplanning, Rdl. Adré Lee-Rail Swarts, het vroeër vanjaar ’n kennisgewing uitgereik waarin onder meer aangekondig is dat nakomingsinspeksies uitgevoer sal word.

Volgens Jeanette Tshite, JB Marks-munisipale woordvoerder, het verskeie onwettige verblyffasiliteite reeds oortredingskennisgewings ontvang. Sommige hiervan is onder die 41 eiendomme wat aansoeke ingedien het en tans op ’n finale besluit van die Munisipaliteit wag.

“Die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit het in Februarie 2026 met die Noordwes-Universiteit se Behuisingsakkreditasie-afdeling in gesprek getree rakende die oortreding van grondgebruikregulasies,” noem sy.

Volgens Tshite het die NWU hom daartoe verbind om saam met die Munisipaliteit te werk om te verseker dat:

  • Studenteverblyf wat nie aan soneringsregulasies voldoen nie, nie tydens die Universiteit se akkreditasiehersiening geakkrediteer word nie;
  • ’n Terreinsinspeksie uitgevoer word om die geldigheid van ’n gerapporteerde oortreding te bevestig; en
  • ’n Oortredingskennisgewing uitgereik word nadat ’n oortreding geverifieer is. Die kennisgewing sit die nodige stappe uiteen om aan die vereiste grondgebruikregte te voldoen, soos bepaal deur die SPLUMA-bywet en Tlokwe-stadsbeplanningskema.

Groot behoefte aan bekostigbare verblyf

Potchefstroom het as studentedorp ’n groot behoefte aan bekostigbare verblyf naby die Noordwes-Universiteit, Vuselela TVET College en ander opleidingsinstellings.

Studente verkies om naby hul kampusse te woon, wat oor die jare ’n sterk mark vir privaat studentebehuising geskep het. Gevolglik is baie gewone woonhuise en erwe aangepas om studente, huurkamers of meer as een wooneenheid te akkommodeer.

Luwaney Janse van Rensburg, ‘n inwoner van Potch Sentraal, noem dat ‘n toenemende hoeveelheid studente in die area begin woon het.

“Laekoste-behuising en gebrek aan die uitvoering van regulasies veroorsaak dat daar baie meer studente op ‘n eiendom woon wat nie reg gesoneer is nie. Baie keer word die inwoners nie in kennis gestel wanneer eiendomme verkoop word en dan vir laekoste behuisingdoeleindes gekoop word nie,” verduidelik sy.

Mareestraat is een van die strate waar daar talle studente-akkomodasie is.

Nico Blignaut, ’n Potchefstroomse stadsbeplanner verbonde aan Welwyn Stads- en Streeksbeplanners, plaas meer lig op hierdie onderwerp. Volgens hom ontstaan probleme wanneer ’n eiendom vir ’n meer intensiewe gebruik aangewend of ontwikkel word sonder die nodige grondgebruiksregte, goedgekeurde bouplanne of ander vereiste goedkeurings.

“Die oplossing is egter nie ongekontroleerde ontwikkeling op enige beskikbare residensiële erf nie. Net so is die doel van stadsbeplanning nie om ontwikkeling onnodig te verhinder nie. Die beginsel is eenvoudig: die regte ontwikkeling, op die regte plek, teen die regte intensiteit en volgens die regte proses.”

Hoe word grondgebruik gereguleer?

Blignaut verduidelik dat elke eiendom oor bepaalde grondgebruiksregte beskik.

“’n Erf wat byvoorbeeld ‘Residensieel 1’ gesoneer is, is hoofsaaklik bedoel vir gewone huishoudelike bewoning. Wanneer die gebruik aansienlik verander, soos waar ’n groter aantal onverwante persone gehuisves word, verskeie afsonderlike wooneenhede geskep word of ’n intensiewe studentebehuisingsgebruik gevestig word, moet bepaal word of die bestaande sonering dit toelaat.”

Afhangend van die aard en omvang van die ontwikkeling, kan dit ’n skriftelike toestemming, spesiale toestemming of hersoneringsaansoek behels.

“’n Hersonering is eenvoudig gestel ’n formele aansoek om die bestaande grondgebruiksregte van ’n eiendom te verander na ’n voorgestelde nuwe gebruik. ’n Meer intensiewe ontwikkeling kan ’n groter invloed hê op water, riool, elektrisiteit, stormwater, verkeer, parkering, afvalverwydering, brandveiligheid en die karakter van die omliggende gebied. Hierdie moontlike gevolge moet vooraf beoordeel word.”

  • Wanneer ’n hersonering nodig is, word ’n formele aansoek by die munisipaliteit ingedien. Die ligging, omliggende grondgebruike, aard en intensiteit van die ontwikkeling, verkeer, toegang, parkering, ingenieursdienste en toepaslike ruimtelike beleid word onder meer oorweeg.
  • Die indiening van ’n hersoneringsaansoek beteken dus nie dat goedkeuring gewaarborg is nie. Waar openbare deelname vereis word, kan omliggende eienaars en ander belanghebbendes kommentaar lewer of beswaar maak. Besware behoort egter op geldige stadsbeplanningsgronde te berus.
  • Selfs na goedkeuring kan verdere vereistes ten opsigte van parkering, digtheid, hoogte, boulyne, toegang en ingenieursdienste geld.
  • Terreinontwikkelingsplanne en bouplanne moet waar nodig ook goedgekeur word.
Jan Cilliersstraat is een van die strate wat studentebehuising bevat.

Onwettige gebruik skep nie ’n reg nie

“Die feit dat ’n studentehuis reeds vir jare bestaan, beteken nie dat dit outomaties wettig geword het nie. Net so beteken die feit dat soortgelyke gebruike reeds in ’n straat of woonbuurt voorkom nie dat almal daarvan wettig is of dat verdere soortgelyke aansoeke outomaties goedgekeur behoort te word nie. Elke aansoek moet op sy eie meriete beoordeel word,” sê Blignaut.

Volgens hom moet faktore soos ligging, omliggende grondgebruike, beskikbare infrastruktuur, toegang tot hoofroetes en openbare vervoer, parkeerbehoeftes en die aard van die omliggende gebied in ag geneem word.

“’n Gebied waarin daar reeds woonstelle, studentebehuising, institusionele gebruike en ander hoërintensiteitsontwikkelings voorkom, kan byvoorbeeld meer geskik wees vir verdere verdigting as ’n gevestigde laedigtheid-woonbuurt wat hoofsaaklik uit enkelwoonhuise bestaan.”

Die kernvraag is dus: Is hierdie spesifieke eiendom, op hierdie spesifieke plek, geskik vir die voorgestelde gebruik en die intensiteit daarvan?

Luwaney Janse van Rensburg, een van die inwoners in Potch Sentraal noem dat studenteverblyf toeneem in die area. Foto: Wouter Pienaar

Munisipaliteit se rol

Tshite sê ’n omvattende verslag sal deur die Munisipale Regskantoor aan die Munisipale Bestuurder voorgelê word, wat verdere optrede teen nie-nakomende eienaars kan meebring.

“Die eerste wyse van nakoming vind plaas tydens die aanvang van ’n ontwikkeling wanneer die Terreinontwikkelingsplan (TOP) ingedien word. Dit word aan al die interne departemente gesirkuleer om nakoming van verskeie wetgewing en verordeninge te verseker. Tweedens, nadat die ontwikkeling voltooi is, doen die Munisipaliteit se gesamentlike inspekteurs, wat uit verskeie interne eenhede bestaan, inspeksies as deel van die moniteringsproses.”

Tshitee beklemtoon dat die stadsbeplanningsinspekteur se rol tot grondgebruiksoortredings en verwante kwessies beperk is. Boubeheer, brandveiligheid, gesondheid en omgewingskwessies val onder ander departemente.

Verskeie vorme van boetes en strawwe kan opgelê word, afhangend van die betrokke departement se riglyne. ’n Boete kan op die toneel uitgereik word, asook ’n kennisgewing om aan die vereistes van die Tlokwe-stadsbeplanningskema van 2015 te voldoen.

Die munisipaliteit het in Februarie 2026 onderneem om seker te maak stuentebehuising aan vereistes voldoen.

Volgens Noordwes-Universiteit woordvoerder, Louis Jacobs, wag die NWU nog op die uitslag van die hersiening an soneringsertifikate.

“Die Universiteit sal met die Munisipaliteit opvolg rakende die eiendomme wat kennisgewings ontvang het, sodat ons oor die besonderhede daarvan kan beskik. Sodra ons al die besonderhede het, sal daar op die proses vorentoe besluit word.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button