Gimmies kan twee Beeldtrofeë ryker wees
Helpmekaar Kollege gaan hierdie komende Saterdag ‘n kookpot van rugby wees met sy o.14-, o.15-, o.16- en eerste span wat om die Beeld Noordvaal Trofee gaan meeding. Gimnasium gaan wel sy beste probeer om op vreemde grond fees te vier met beide die o.16- en eerste span wat in die finaal gaan speel. Potchefstroom Gimnasium …
Helpmekaar Kollege gaan hierdie komende Saterdag ‘n kookpot van rugby wees met sy o.14-, o.15-, o.16- en eerste span wat om die Beeld Noordvaal Trofee gaan meeding.
Gimnasium gaan wel sy beste probeer om op vreemde grond fees te vier met beide die o.16- en eerste span wat in die finaal gaan speel. Potchefstroom Gimnasium is juis tans vereer met ‘n top 20 plek vir die land se beste rugbyskole.
Gimmies se eerstes en o.16-span het verlede naweek een van hulle grootste beproewinge gehad toe hulle 500 kilometer Noord na Tzaneen moes reis.
Ben Vorster het vir hulle gewag en die halfeindstryd is gekenmerk deur versengende hitte en humiditeit wat die spelers se fiksheid getoets het. Die eerste span het met 21-10 gewen, terwyl die o.16’s met 12-10 geseëvier het.
Die eerste span het ‘n agterstand van 3-10 in ‘n oorwinning omskep met ‘n pragtige vertoning in die tweede helfte. Die rustydtelling was 3-3 met albei spanne wat onafskeidbaar was en mekaar op die aanval en verdediging geewenaar het.
Heinrich Siepker en Tyre Bezuidenhout het vir Gimmies oor die doellyn gaan kuier en het seker gemaak dat hulle met glimlagte na Noordwes toe terugkeer. Jaswyn Damon het een drie verdoel en met twee strafdoele geslaag, terwyl Cassie Dreyer met ‘n skepdoel in die kol was.
Dreyer gaan hierdie naweek ook ‘n belangrike faktor in die eindstryd wees en sy skopwerk sal grotendeels deurslaggewend wees. Die o.16’s speel ook kookwater rugby en het weer na ‘n naelskraap wedstryd as wenner uit die sege getree.
Wat beide spanne se pad na die eindstryd so uitsonderlik maak, is dat hulle al die uitspeelwedstryde weg moes speel. Daar is nou ‘n goeie kans dat daar teen Saterdagmiddag dubbele vreugde kan heers.
Daar is nou net nog een wedstryd voor teen die bruin masjien van Helpmekaar, voordat Potchefstroom dalk weer die tuiste van grootskole sukses gaan wees.