Proteas wil borde teen die Kiwi’s op Senwes verhang
24 Maart 2015. Hierdie datum sal Suid-Afrikaanse krieketondersteuners nie sommer kan vergeet nie. Dit was die dag toe Suid-Afrika se krieketwêreldbeker-drome aan skerwe gelê het toe Nieu-Seeland in Auckland die Proteas met vier paaltjies in die halfeindstryd geklop het. Sedertdien het Suid-Afrika ‘n wipplank seisoen beleef wat wenkbroue laat lig het na ‘n onlangse 2-1 …
24 Maart 2015.
Hierdie datum sal Suid-Afrikaanse krieketondersteuners nie sommer kan vergeet nie. Dit was die dag toe Suid-Afrika se krieketwêreldbeker-drome aan skerwe gelê het toe Nieu-Seeland in Auckland die Proteas met vier paaltjies in die halfeindstryd geklop het. Sedertdien het Suid-Afrika ‘n wipplank seisoen beleef wat wenkbroue laat lig het na ‘n onlangse 2-1 nederlaag teen Bangladesh.
Nieu-Seeland het die teenoorgestelde rigting beweeg en ‘n klompie belangrike oorwinnings teen Engeland en Zimbabwe behaal. Nou gaan alles wel oor een belangrike wedstryd, waar groen en goud teen swart met kolf en bal gaan kragte meet.
23 Augustus.
Dit gaan die dag wees wat Potchefstromers heel moontlik sal sien hoe Suid-Afrika die borde teen hul oervyand op die krieketveld verhang. Die Proteas gaan hierdie Sondag in die tweede internasionale eendagwedstryd teen die Black Caps te staan kom en dit behoort ‘n klomp sesse, viere en paaltjies wat tuimel, in te sluit.
Suid-Afrika en Nieu-Seeland het in die afgelope T-20 reeks weer gewys hoe kop-aan-kop hulle in verskeie fases van hulle spel is. Die besoekers se kolfranglys sluit die gevaarlike Martin Guptill en kaptein Kane Williamson in wat reeds in die T-20 reeks gewys het hoe hulle boulwerk kan domineer.
Die Proteas het wel ‘n sterker middel orde met Rilee Rossouw, AB de Villiers en Farhaan Behardien wat standvastigheid bied. Dit gaan wel interessant wees om te sien of Suid-Afrika se boulaanval genoeg skietgoed gaan hê.
Dit is wel verseker dat Dale Steyn en Kagiso Rabada enige kolwer slapelose nagte kan gee.
Krieketkoors het die Noordwes behoorlik getref en volgens die HUB van Noordwes Krieket, Heinrich Strydom, is al die kaartjies uitverkoop. Die hekke maak reeds om 08:00 oop. Die wedstryd begin 10:00.
Belangrike inligting vir Sondag se wedstryd
Die volgende items word binne die stadion toegelaat:
- Kos en nie-alkoholiese drank (plastiese houers)
- Gasbraaier
- Houtskool en hout (braaiarea)
- Kamp- en opvoustoele
- Komberse
- Sambrele
Die volgende items word binne die stadion verbied:
- Alkoholiese drank
- Diere (behalwe gidshonde)
- Kameras met telefotolense en driepote
- Blikkies en glashouers
- Draagbare braaiers
- Vuurwerke/vuurwapens
- GazebosGeen kinders mag op die veld gaan nie.
As die veld gedurende die wedstryd betree word, word dit as ‘n kriminele oortreding beskou. ‘n Boete van R250 000 sal dan betaal moet word. Nuwe wette verbied ook rook binne die stadion.
Parkering
Geen parkering binne in die stadion word toegelaat nie.
Voertuie moet ‘n geldige rolstoelparkeringsbewys vertoon om toegang te verkry.
Toeskouers kan in die volgende areas parkeer:Thabo Mbeki-rylaan, Laerskool Mooirivier, Esselenstraat, Molenstraat en die Jool Plaas.
Kos en drank
Daar gaan ook ‘n verskeidenheid kosstalletjies wees wat ‘n verskeidenheid lekkernye sal verkoop, waaronder burgers, chips, schwarmas, roosterkoeke, bier en koffie.



