Luiperds smag na bekerglorie op Olënpark
Die Luiperds speel vanaand (Donderdag) om 18:00 op Olënpark teen die SWD Arende in die eindstryd van die ABSA Curriebeker se Eersteliga. Dit skep die geleentheid vir die Luiperds om vir die heel eerste keer as Luiperds die titel te wen en die spinnerakke uit die trofeekabinet te laat haal.Die Luiperds is in die eindstryd …
Die Luiperds speel vanaand (Donderdag) om 18:00 op Olënpark teen die SWD Arende in die eindstryd van die ABSA Curriebeker se Eersteliga.
Dit skep die geleentheid vir die Luiperds om vir die heel eerste keer as Luiperds die titel te wen en die spinnerakke uit die trofeekabinet te laat haal.Die Luiperds is in die eindstryd na hulle verlede week met die Valke afgereken het in die een halfeind.
Eintlik is “afgereken” nie die regte woord nie. Was dit nie vir die soveelste keer vir die skopvoet van Meel Engelbrecht nie, was daar Saterdagaand lang trane gehuil. Die Luiperds het loodvoetig voorgekom en in die hele eerste helfte was daar net twee positiewe lopies: Die eerste deur slot Robert Kruger en bietjie later het Adriaan Vermeulen ook lus gelyk vir hardloop.
Cage van der Westhuizen het die enigste drie in die helfte gedruk en Meel Engelbrecht het vir veertien punte gesorg met vier strafdoele en ‘n doelskop om die span teen rustyd met 19-7 te laat voorloop.
Die Valke het met ‘n groot aanslag gekom in die tweede helfte en 10 punte bygevoeg met twee drieë, om slegs twee punte agter te wees met 20 minute oor na die eindfluitjie toe.
Engelbrecht het die gaping weer na 5 punte gerek met ‘n strafdoel in die 26e minuut. Die laaste tien minute breek aan met die Valke wat aanval na aanval op die Luiperddoellyn loods. Die Valke laat loop weer ‘n bal vier minute voor die einde met die agterlyn af en is een aangee van ‘n drie af toe Rhyno Smith op sy doellyn onderskep en deursuiker om te gaan druk.
Engelbrecht verdoel en die Luiperds wen 29-17.In die ander halfeind het die Arende die verdedigende kampioen, die Griffons, uitgeskakel.Kan die Luiperds die eindstryd wen? Ja, indien hulle meer energie toon en die spel oorheers.
‘n Oorwinning sal ook ‘n gepaste afskeidgeskenk wees vir die afrigter Robert du Preez, wat volgens alle aanduidings terug verhuis na Durban waar hy by die Sharks betrokke gaan wees. Die wen van die trofee sal beteken dat sy Potch-safari nie heeltemal ontspoor het nie. Die Varsity Cup het hom tweemaal ontwyk en verlede seisoen die Eersteliga ook.
‘n Oorwinning sal ook ‘n afskeidsgeskenk wees vir die voormalige hoof uitvoerende beampte van die Luiperds, Louis du Plessis wat van 1 Oktober af sy gewig by Jomo Cosmos, die sokkerklub, ingegooi het.Goeie raad aan die spinnekoppe in die trofeekabinet: Verhuis betyds want julle gaan vanaand uitgegooi word!
*Die volledige speelrooster vir vandag se rugby, wat ook die eindstryde vir die o.19 en o.21 insluit lyk so: 14:25: o.19: Pumas vs Griffons16:00: o.21: Limpopo Blou Bulle t. SWD
18:00: Eersteliga: Luiperds t. SWD Arende



