Rugby is deel van sy taal
Hy onthou nog steeds die hartseer om in ’n groot rugbyeindstryd te verloor. Wanneer die eindfluitjie geblaas word en ’n mens besef dat al die harde werk en opoffering nie in die einddoel verander het nie. Op die ou einde gaan rugby oor wen en dit is iets wat Juan Language, kaptein van die Luiperds …
Hy onthou nog steeds die hartseer om in ’n groot rugbyeindstryd te verloor. Wanneer die eindfluitjie geblaas word en ’n mens besef dat al die harde werk en opoffering nie in die einddoel verander het nie.
Op die ou einde gaan rugby oor wen en dit is iets wat Juan Language, kaptein van die Luiperds bittergraag in vanaand se Curriebeker Eersteliga eindstryd wil beleef.
Language en sy spanmaats het nou weer ’n geleentheid vanaand om Curriebeker Eersteligaglorie te behaal wanneer hulle teen die SWD Arende te staan kom. Sodoende kan Language die Varsitybeker teleurstelling van 2014 teen UCT Ikeys finaal begrawe, met die fokus op ’n blink hede en nog blinker toekoms.
“Ek het nog nie ‘n finaal in Potch gewen nie en ek sal graag dit wil bereik,” noem hy. Language het op Hoërskool Framesby in Port Elizabeth skoolgegaan en sy liefde vir rugby daar gebou. Hy het toe ’n uitstekende geleentheid gekry om deel van die Haaie-akademie te word. Language het in daardie tyd stelselmatig begin naam maak en het veral in Durban se klubrugby-kringe aandag getrek.
Dit is juis in Durban waar die huidige Luiperds afrigter, Robert du Preez se paaie gekruis het. Du Preez was toe afrigter by Crusaders in Durban en toe was Language ook daar. Du Preez het toe by die Luiperds na sy tyd by College Rovers aangesluit en Language gevra om deel van sy planne te wees in Potchefstroom.
“Dit was ’n goeie skuif en ek het begin Varsity Rugby vir die Pukke, en toe Vodacom Cup hierdie jaar gespeel. Dit was albei goeie geleenthede.” Volgens Language glo hy dat daar verskillende tipe leiers op ’n rugbyveld is en hy sê graag dat sy spel op die veld sy span motiveer. “Ek lei met my voorbeeld en ek is altyd positief en probeer die beste uit ouens kry.
Ek en Robert kom al die laaste ses jaar saam en ons het ’n goeie band,” noem hy.“Ek wil graag die Curriebeker wen hierdie jaar en nog Superrugby speel. As ek ’n geleentheid kry sal ek ook graag oorsee wil speel in die toekoms,” sê hy oor sy rugbydoelwitte.
Leer meer oor Juan Language
Gunsteling Kos: Steak
Gunsteling drankie: Coke Zero
Ontspanning: Visvang
Musiek: Theuns Jordaan, Die Heuwels Fantasties, Adam Tas en bietjie Francois van Coke.
Keuse vir beste flank op nommer ses: Richie McCaw