Volkies en Gimmies takel mekaar in Noordwes-krieketfinaal
Saterdag gaan die skote op die krieketveld klap wanneer Volkskool en Gimnasium mekaar vir die eerste keer in tien jaar in die eindstryd van die Noordwes-skolefinaal takel. Dit groot vraag is watter span die meeste skietgoed gaan hê om die beker te wen? Krieketliefhebbers kan hulle gereed maak vir ‘n strategiese geveg soos min, wanneer …
Saterdag gaan die skote op die krieketveld klap wanneer Volkskool en Gimnasium mekaar vir die eerste keer in tien jaar in die eindstryd van die Noordwes-skolefinaal takel. Dit groot vraag is watter span die meeste skietgoed gaan hê om die beker te wen?
Krieketliefhebbers kan hulle gereed maak vir ‘n strategiese geveg soos min, wanneer die klassieke teenstanders op Volkskool se veld om 09:00 die kolfblad betree. Volkskool gaan met ‘n klompie voordele in hulle guns in die wedstryd in. Eerstens het hulle tuisvoordeel en is vertroud met hulle kolfblaaie. Tweedens het hulle vanjaar die oorhand oor Gimmies en het hulle in die ligafase met vier paaltjies geklop. Volkies sal bly wees dat Louis van Schalkwyk na ’n besering terug is. Charles Louw en Jacques Bouwer, onder andere kan ook op die boulaanval skade aanrig.
Volkies se sukses lê wel grootliks by hulle spanwerk. Die eerstespan afrigter, Andries Huisamen, is positief en glo dat sy span ‘n klompie planne in hulle mou het. “Ek dink nie enige Volkie-Gimmie wedstryd het enige ekstra motivering nodig nie, veral nie ‘n finaal nie,” het hy beaam. “Ek dink een van die groot redes waarom ons die finaal hierdie jaar gehaal het, is omdat ons elke keer die druksituasies goed hanteer het. Ons was in ‘n klomp wedstryde diep in die moeilikheid, maar ons het oorwin,” het Huisamen bygevoeg.
Gimmies het hierdie jaar ook voortreflike krieket gespeel en het bewys dat hulle kolfwerk definitief hulle sterkpunt is. Lourén Steenkamp, Ruan Haasbroek en SW Rossouw was hierdie seisoen steunpilare en as Gimmies die trofee gaan vat, moet een van hierdie spelers uitblink. “Ons het ‘n klomp hardwerkende en talentvolle seuns. Ons dank die Here vir ons talente en geleenthede wat hy vir ons bied. Ons het ‘n harde voorseisoenprogram gehad. Ons voorbereiding, harde oefening en voorseisoen wedstryde het ons gebring tot waar ons is,” sê Braam de Villiers, Gimmies se eerstespan afrigter. Hy het ook bygevoeg dat die Volkie-Gimmie wedstryd die finaal ekstra spesiaal gaan maak. “Daar is altyd meer energie in ‘n finaal. Die motivering om beslis harder te werk is daar.”
Gimmies en Volkies het beslis hul oog op die teiken. Watter span gaan eerste die sneller trek?
Potchefstroom Gimnasium
Lourén Steenkamp, Kobus Viljoen, Divan Mienie, Ruan Haasbroek (kaptein), Francois van Deventer, SW Rossouw, Anton Prinsloo, GP van der Merwe, Jaco Schoeman, Jooste Fourie en Vernon Charslund
Volkskool Potchefstroom
Jandré Dreyer (kaptein), David Crowther (onderkaptein), Gerhard Oosthuizen, Charles Louw, Ruan von Abo, Jacques Bouwer, WL Fourie, Louis van Schalkwyk, Cobus Crowther, Herman Prinsloo, Vincent Viljoen, Eddie Coetsee en Ryan de Jongh



