Nuwe Luiperds breier maak geskiedenis
Jonathan Mokuena is weer op sy tuisgrond – daar waar alles begin het ‘n dekade gelede toe hy in ‘n Luiperdstrui naam gemaak het. Nou trek hy ‘n afrigtingsbaadjie aan en vat die leisels styf by die Luiperds en die NWU Pukke se Varsitybekerspan vas as hoofafrigter – ‘n aanstelling wat op ‘n nuwe era …
Jonathan Mokuena is weer op sy tuisgrond – daar waar alles begin het ‘n dekade gelede toe hy in ‘n Luiperdstrui naam gemaak het.
Nou trek hy ‘n afrigtingsbaadjie aan en vat die leisels styf by die Luiperds en die NWU Pukke se Varsitybekerspan vas as hoofafrigter – ‘n aanstelling wat op ‘n nuwe era in rugbygeskiedenis dui.
Mokuena (34) is die eerste afrigter van kleur om een van die groot Universiteite in die Varsitybeker sowel as die Luiperds af te rig en daar heers groot opwinding in sy rugbysiel.
“Dit is ‘n baie groot geleentheid vir my. Baie goeie afrigters het vir hierdie pos aansoek gedoen en ek is geseënd om my liefde vir rugby hier in Potchefstroom voort te bou,” sê Mokuena.
Hy neem nou oor by die voormalige breier, Robert du Preez, wat tans sy afrigtingsloopbaan by die Sharks voortsit.
Die Luiperds se nuwe afrigter het in 2011 sy rugbytokse opgehang na hy vir ‘n klomp unies uitgedraf het op provinsiale vlak. Hy het die Luiperds tussen 2004 en 2006 in 55 wedstryde verteenwoordig en ook vir die WP, die Vrystaat, Griekwas, die Griffons en die Leeus gespeel.
Nasionaal het hy ook die Blitzbokke en SA o.19 en o.21 spanne verteenwoordig en sy stempel as een van Suid-Afrika se beste losvoorspelers afgedruk. Mokuena het in afrigting inbeweeg waar hy ‘n paar skole afgerig het, die Leeus en UJ se Sewespanne afgerig het en ook as spesialis by St Stithians aangestel is om met rugbyvaardighede te help. Dit is juis by die jong en opkomende spelers waar Mokuena veral aanklank vind en dit is hoekom hierdie nuwe rol vir Mokuena veral by die Puk soos ‘n handskoen sal pas.
“Dit is ‘n voorreg om met die jong belowende spelers te kan werk en hulle te vorm. Nie baie mense kry die geleentheid om so ‘n groot impak te kan maak nie. Dit is vir my goed om alles wat ek geleer het te vat en dan my eie strategieë na die tafel toe te bring.
“Ek wil die nuwe jaar begin om strukture aan die gang te kry en dit gaan vir my ‘n uitdaging wees om met al die verskillende persoonlikhede te werk,” voeg hy by. Mokuena het ook ‘n visie met die Luiperds en glo dat die span die ideale kans het om op hulle Currie Eersteliga-beker oorwinnings vanjaar voort te bou.
“Die Luiperds is ‘n slapende reus wat wakker gemaak moet word. Daar is goeie strukture in Potchefstroom en die unie kan beslis meer kompeterend wees. In 2005 was ek as speler by die Luiperds in ‘n goeie span en ons het ‘n paar groter spanne laat sweet. As die Luiperds meer diepte kry kan ons net van krag tot krag gaan,” verseker hy.
Die familieman heg ook groot waarde aan sy gesin en glo dat sukses lewens kan verbeter en dat hy graag ‘n goeie voorbeeld wil stel met wat hy doen op en van die veld af.
“Ek sê altyd: Tough times never last, tough people do. Ek glo dit is waar dat elke speler sy potensiaal kan bereik as hy sy natuurlike spel speel.”
Mokuena begin amptelik op 1 Januarie met die huidige groep afrigters, onder die leiding van Burger van der Westhuizen, wat die oorgangsfase tot dan sal bestuur.



