Tussen rose en dorings hardloop Gimmie met God
Daar is ’n rustigheid wat die kranige sportman en onderhoofseun van Potchefstroom Gimnasium uitstraal met die eerste ontmoeting. ’n Mens kom na ’n kort rukkie agter hoekom Edwin “Eddie” Schoeman (18) met sy vriendelike persoonlikheid een van sy skool se uitblinkers is. Tog agter al die sukses het die dramatiese ervaringe en finaliteit van die …

Daar is ’n rustigheid wat die kranige sportman en onderhoofseun van Potchefstroom Gimnasium uitstraal met die eerste ontmoeting. ’n Mens kom na ’n kort rukkie agter hoekom Edwin “Eddie” Schoeman (18) met sy vriendelike persoonlikheid een van sy skool se uitblinkers is. Tog agter al die sukses het die dramatiese ervaringe en finaliteit van die dood Eddie se wêreld tydelik laat stilstaan – sy stiefbroer, Juan, is skielik oorlede, dit net voor vanjaar se Interhoër atletiekbyeenkoms.
“Dit was so ’n groot skok vir my en moeilik om te begryp. Hy was ’n beste vriend. Om eerlik te wees wou ek nie hardloop daardie dag nie. Gimmies het reeds vir die o.19’s nuwe klere bestel en ek besluit toe om wel deel te neem. Ek het net gebid en die Here gevra dat hy my sal lei en ek het toe besluit om vir Juan te hardloop.”
Geklee in ’n wit hemp met die woorde “RIP Juan 1997-2016” in swart geskryf het Edwin met die hartseer diep in sy hart op sy knie in die blokke gaan sak. Die emosies en adrenalien begin vloei terwyl die afsitter sy vinger teen die sneller druk.
“Die skoot klap en voor ek weer sien het ek my beste tyd van die seisoen (10.84) gehardloop,” onthou hy.
Die rou emosie tref Edwin oor die eindstreep – hy het sy doel op daardie dag voltooi. ’n Blywende huldeblyk aan Juan, wie die wêreld te vroeg verlaat het.
Hierdie is maar net een van die baie oomblikke wat sport aan Edwin tot dusver verleen het.
Potchefstroom Herald het meer gaan uitvind oor sy drome, talente en die mens agter die Gimmies-wapen op sy bors:
Sport: Atletiek en rugby
Beste prestasies: Eerste keer dat ek SA’s toe gegaan het in Graad 10. Ek het daar die top 15 gehaal.
Hoe het jou passie vir sport ontwikkel? Ek het nog altyd van sport gehou en ek is mal daaroor om aktief te wees. Dit is ook in die familie, met my oupa wat vir OP rugby gespeel het sowel as my ouma wat vir Noord-Transvaal hekkies gehardloop het. Ek wil graag met atletiek aangaan volgende jaar ook. Ek stres baie voor ’n wedloop maar ek gebruik dit op ’n positiewe manier om adrenalien te behou.
Hoe balanseer jy skoolwerk en sport? Op die oomblik is my skoolwerk belangrik. Soms skuif ek dit wel opsy vir my sport omdat ek so lief daarvoor is. Ek het ook baie take by die skool as onderhoofseun so dit hou my besig.
Lewenslesse wat jy uit sport geleer het: Van kleins af het albei my ouers my geleer om altyd nederig te bly. Ek het geleer dat jy die Here eer vir al jou talente. ’n Mens moet nie kwade gevoelens hê nie en goeie sportmangees handhaaf.
Wat maak Potchefstroom uniek en waar is jou gunsteling plek in die stad? Omdat daar ’n universiteit en studentelewe is. Daar is altyd nuwe mense om te ontmoet. Ek hou daarvan om net rustig by die huis saam met vriende te kuier.
Vyf items wat jy op ’n verlate eiland wil saamneem: Bybel, baie water, ’n geweer of ’n pyl en boog, my geliefde meisie vir geselskap en ’n tekenboek.
Drie mense wat jy nog sal wil ontmoet: Usain Bolt, Yohan Blake en Sonny Bill Williams.
Drie dinge wat jou irriteer: As ek met iemand praat en hulle praat nie terug nie, as iemand hoogmoedig is en as ouens geen respek teenoor meisies het.
Drie dinge wat jou gelukkig maak: My familie, my meisie vir wie ek baie lief is en vriende om my te ondersteun.
Wat se stokperdjies het jy? Ek is mal oor jag en visvang.
See of wildtuin: See.
Gunsteling liedjie op die oomblik: Melbourne Bounce and Alan Walker – Faded.
Atletiek of rugby en hoekom? Atletiek, omdat dit ’n individuele sport en meer persoonlik is.
Aksie of komedie? Aksie.
Facebook of Instagram? Instagram.
Gunsteling kos? Braaivleis.
Laaste persoon vir wie jy ‘n boodskap gestuur het? My meisie.
Na wie kyk jy op, jonk of oud? My pa is ’n rolmodel vir my en ek kyk op na hom. Van kleins af was my pa en ma daar vir my.
Watter rugbyspan ondersteun jy? Sharks.




